Shabbat Shalom!

Welkom by Vayigash – Toe het Hy het Nader gekom, hierdie week se Parasha.




Genesis 44:18 – 47:27


 *~Genesis Hoofstuk 44~*


18 Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog ‘n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao. 


19 My heer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle ‘n vader of broer? 


20 En ons het my heer geantwoord: Ons het ‘n ou vader; en daar is ‘n jong seun, ‘n kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief.

 
21 Toe het u aan u dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom kan rig.


22 En ons het my heer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy vader sal sterwe as hy hom verlaat. 


23 Daarop het u aan u dienaars gesê: As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my aangesig nie weer sien nie. 


24 En toe ons na u dienaar, my vader, opgetrek het en hom die woorde van my heer te kenne gegee het, 


25 het ons vader gesê: Gaan koop weer vir ons ‘n bietjie voedsel. 


26 Maar ons het gesê: Ons kan nie aftrek nie. As ons jongste broer by ons is, sal ons aftrek; want ons mag die aangesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie. 


27 En u dienaar, my vader, het aan ons gesê: Júlle weet dat my vrou vir my twee gebaar het— 


28 die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: Voorwaar, hy is verskeur, verskeur! En ek het hom tot hiertoe nie gesien nie.

 
29 As julle nou hierdie een ook van my af wegneem en hom ‘n ongeluk oorkom, dan sal julle my grys hare met droefenis in die doderyk laat afdaal. 


30 As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie—terwyl sy siel innig aan hom verkleef is— 


31 sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal.


32 Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan. 


33 Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek. 


34 Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie!



 *~Genesis Hoofstuk 45~*


Toe kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie.

 
Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao dit gehoor het. 


En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom.

 
Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het.

 
Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het ELOHIEM my voor julle uit gestuur. 


Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. 


Maar ELOHIEM het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing. 


Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar ELOHIEM; en HY het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland.


Trek gou op na my vader en sê vir hom: So spreek u seun Josef: ELOHIEM het my ‘n gebieder oor die hele Egipteland gemaak. Kom af na my, moenie versuim nie! 


10 En u kan in die land Gosen woon en naby my wees, u en u kinders en u kindskinders en u kleinvee en u beeste en alles wat u besit. 


11 En ek sal u daar onderhou, want daar sal nog vyf jaar hongersnood wees; sodat u nie verarm nie, u en u huis en alles wat aan u behoort. 


12 En kyk, julle oë sien dit, en die oë van my broer Benjamin, dat dit my mond is wat met julle spreek. 


13 Vertel my vader dan van al my heerlikheid in Egipte en van alles wat julle gesien het, en bring my vader gou hierheen af. 


14 Toe val hy sy broer Benjamin om die hals en ween; en ook Benjamin het aan sy hals geween. 


15 En hy het al sy broers gesoen en aan hulle hals geween; en daarna het sy broers met hom gespreek. 


16 Toe die gerug in die huis van Farao gehoor word dat Josef se broers gekom het, was dit goed in die oë van Farao en van sy dienaars. 


17 En Farao het met Josef gespreek: Sê aan jou broers: Doen dit, laai julle diere en trek weg na die land Kanaän. 


18 En gaan haal julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe, dan sal ek julle die beste van Egipteland gee; en eet die vettigheid van die land. 


19 Jy kry dan bevel—doen dit: Neem vir julle uit Egipteland waens vir julle kinders en julle vroue, en vervoer julle vader en kom. 


20 En julle hoef geen spyt te hê oor julle huisraad nie, want die beste van die hele Egipteland is julle s’n. 


21 Die seuns van Israel het toe so gedoen; en Josef het vir hulle waens verskaf volgens die bevel van Farao en hulle padkos gegee vir die reis.

 
22 Hy het aan hulle almal, man vir man, ‘n stel nuwe klere gegee; maar aan Benjamin het hy drie honderd sikkels silwer en vyf stel nuwe klere gegee.

 
23 En net so het hy ook aan sy vader gestuur tien esels, gelaai met die beste goed van Egipte, en tien eselinne, gelaai met koring en brood en voedsel vir sy vader op die reis. 


24 Daarop het hy sy broers weggestuur, en hulle het vertrek; en hy het aan hulle gesê: Moenie vir mekaar kwaad word op die pad nie. 


25 En hulle het opgetrek uit Egipte en in die land Kanaän aangekom by hulle vader Jakob. 


26 Toe hulle hom vertel: Josef lewe nog—en dat hy regeerder is in die hele Egipteland—het sy hart beswyk, want hy het hulle nie geglo nie.

 
27 Maar toe hulle hom al die woorde van Josef te kenne gee wat hy met hulle gespreek het, en hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te vervoer, het die gees van Jakob, hulle vader, lewendig geword.

 
28 En Israel het gesê: Dit is genoeg! My seun Josef lewe nog! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterwe.



 *~Genesis Hoofstuk 46~*


En Israel het weggetrek met alles wat aan hom behoort het, en in Berséba gekom; en hy het offerandes gebring aan die ELOHIEM van sy vader Isak. 


En ELOHIEM het tot Israel gespreek in naggesigte en gesê: Jakob, Jakob! En hy antwoord: Hier is ek! 


Toe sê Hy: EK is EL, die ELOHIEM van jou vader. Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie, want EK sal jou daar ‘n groot nasie maak. 


EK sal saam met jou aftrek na Egipte, en EK sal jou gewis ook weer laat optrek; en Josef sal jou oë toedruk.

 
Daarna het Jakob weggetrek van Berséba af. En die seuns van Israel het hulle vader Jakob met hulle kinders en hulle vroue op die waens gelaai wat Farao gestuur het om hom te vervoer.

 
En hulle het hul vee en besittings geneem wat hulle in die land Kanaän verwerf het, en in Egipte gekom, Jakob en sy hele geslag saam met hom: 


sy seuns en sy kleinseuns saam met hom; sy dogters en kleindogters en sy hele geslag het hy saam met hom in Egipte gebring. 


En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het—Jakob en sy seuns. Die eersgeborene van Jakob was Ruben.


En die seuns van Ruben: Henog en Pallu en Hesron en Karmi. 


10 En die seuns van Símeon: Jémuel en Jamin en Ohad en Jagin en Sohar en Saul, die seun van die Kanaänitiese vrou. 


11 En die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merári. 


12 En die seuns van Juda: Er en Onan en Sela en Peres en Serag. Maar Er en Onan het gesterwe in die land Kanaän; en die seuns van Peres was Hesron en Hamul.

 
13 En die seuns van Issaskar: Tola en Puwa en Job en Simron.

 
14 En die seuns van Sébulon: Sered en Elon en Jágleël. 


15 Dit is die seuns van Lea wat sy vir Jakob gebaar het in Paddan-Aram, saam met sy dogter Dina; al die siele van sy seuns en dogters was drie en dertig. 


16 En die seuns van Gad: Sifjon en Haggi, Suni en Esbon, Eri en Aródi en Areëli. 


17 En die seuns van Aser: Jimna en Jiswa en Jiswi en Bería en Serag, hulle suster; en die seuns van Bería: Heber en Málkiël. 


18 Dit is die seuns van Silpa wat Laban aan sy dogter Lea gegee het; en sy het vir Jakob hierdie sestien siele gebaar. 


19 Die seuns van Ragel, die vrou van Jakob: Josef en Benjamin.

 
20 En vir Josef is in Egipteland gebore Manasse en Efraim wat Asenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, vir hom gebaar het.

 
21 En die seuns van Benjamin: Bela en Beger en Asbel, Gera en Naäman, Egi en Ros, Muppim en Huppim en Ard. 


22 Dit is die seuns van Ragel wat vir Jakob gebore is, almal saam veertien siele. 


23 En die seuns van Dan: Husim. 


24 En die seuns van Náftali: Jágseël en Guni en Jeser en Sillem.

 
25 Dit is die seuns van Bilha wat Laban aan sy dogter Ragel gegee het; en sy het hulle vir Jakob gebaar, almal saam sewe siele. 


26 Al die siele wat aan Jakob behoort het en, uit sy heup afkomstig, na Egipte gegaan het, behalwe die vroue van die seuns van Jakob, was almal saam ses en sestig siele. 


27 En die seuns van Josef wat vir hom in Egipte gebore is, was twee siele. Al die siele van die huis van Jakob wat in Egipte gekom het, was sewentig. 


28 En hy het Juda voor hom uit gestuur na Josef, dat dié voor hom uit die pad moes wys na Gosen; en hulle het in die land Gosen aangekom. 


29 Toe span Josef sy wa in, en hy trek op, sy vader Israel tegemoet na Gosen. En toe hy homself aan hom vertoon, het hy om sy hals geval en lank aan sy hals geween. 


30 En Israel sê vir Josef: Nou kan ek sterwe nadat ek jou aangesig gesien het, dat jy nog leef! 


31 Daarna het Josef met sy broers en die huis van sy vader gespreek: Ek sal optrek en aan Farao vertel en aan hom sê: My broers en die huis van my vader wat in die land Kanaän was, het na my gekom. 


32 En die manne is herders van kleinvee—want hulle was veeboere—en hulle het hul kleinvee en hul beeste en alles wat hulle besit, saamgebring. 


33 En as Farao julle laat roep en sê: Wat is julle nering? 


34 dan moet julle antwoord: U dienaars was veeboere van ons jeug af tot nou toe, ons sowel as ons vaders—sodat julle in die land Gosen kan woon. Want elke herder van kleinvee is vir die Egiptenaars ‘n gruwel.



 *~Genesis Hoofstuk 47~*


Daarop het Josef gekom en aan Farao vertel en gesê: My vader en my broers en hulle kleinvee en beeste en alles wat hulle besit, het gekom uit die land Kanaän, en daar is hulle nou in die land Gosen. 


En hy het uit die getal van sy broers vyf man saamgeneem en hulle aan Farao voorgestel. 


Toe sê Farao aan sy broers: Wat is julle nering? En hulle antwoord Farao: U dienaars is herders van kleinvee, ons sowel as ons vaders. 


Verder sê hulle vir Farao: Ons het gekom om as vreemdelinge in die land te vertoef, want daar is geen weiding vir die kleinvee van u dienaars nie, omdat die hongersnood in die land Kanaän swaar is. Laat u dienaars dan nou tog in die land Gosen woon.

 
Daarop het Farao met Josef gespreek en gesê: Jou vader en jou broers het na jou gekom. 


Egipteland lê voor jou oop; laat jou vader en jou broers in die beste deel van die land woon; hulle kan in die land Gosen woon. En as jy weet dat daar onder hulle bekwame manne is, stel hulle dan aan as vee-opsigters oor my eiendom. 


Toe bring Josef sy vader Jakob in en stel hom aan Farao voor. En Jakob het Farao gegroet met ‘n seënwens. 


Daarop sê Farao vir Jakob: Hoeveel is die dae van jou lewensjare? 


En Jakob het Farao geantwoord: Die dae van die jare van my vreemdelingskap is honderd en dertig jaar. Min in getal en vol teëspoed was die dae van my lewensjare, en hulle het nie gehaal by die dae van die lewensjare van my vaders gedurende die dae van hulle vreemdelingskap nie. 


10 Toe het Jakob Farao gegroet met ‘n seënwens en van Farao af weggegaan.

 
11 En Josef het vir Jakob en sy broers woonplekke aangewys en aan hulle besitting in Egipteland gegee, in die beste deel van die land, in die landstreek Raämses, soos Farao beveel het. 


12 En Josef het sy vader en sy broers en die hele huis van sy vader met brood onderhou ooreenkomstig die getal van die kinders.

 
13 En daar was in die hele land geen brood nie, want die hongersnood was baie swaar, sodat Egipteland en die land Kanaän uitgeput was weens die hongersnood. 


14 En Josef het al die geld versamel wat in Egipteland en in die land Kanaän te vinde was, vir die koring wat hulle gekoop het, en Josef het die geld in die paleis van Farao gebring. 


15 En toe die geld in Egipteland en in die land Kanaän op was, het al die Egiptenaars na Josef gekom en gesê: Gee vir ons brood! En: Waarom moet ons voor u oë sterwe, want die geld is gedaan? 


16 En Josef antwoord: Gee julle vee, dan sal ek dit aan julle gee vir julle vee as die geld gedaan is. 


17 Toe bring hulle hul vee na Josef, en Josef het aan hulle brood gegee vir die perde en die besitting aan kleinvee en beeste en vir die esels; en hy het hulle dié jaar versorg met brood vir die waarde van al hulle besittings aan vee.

 
18 Toe dié jaar om was, het hulle na hom gekom in die tweede jaar en vir hom gesê: Ons kan dit vir my heer nie wegsteek nie, maar die geld is op en die besitting aan vee is my heer s’n. Daar het niks vir my heer oorgebly nie as net ons lyf en ons grond. 


19 Waarom moet ons voor u oë te gronde gaan, ons sowel as ons landerye? Koop ons en ons grond vir brood, dan sal ons met ons grond aan Farao diensbaar wees; en gee saadkoring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie, en dat die grond nie woes word nie. 


20 So het Josef dan al die grond van Egipte vir Farao opgekoop, want die Egiptenaars het elkeen sy stuk grond verkoop, omdat die hongersnood vir hulle te swaar was. So het die land dan Farao se eiendom geword. 


21 En wat die volk betref—hy het hulle laat verhuis na die stede, van die een end van die Egiptiese gebied na die ander end daarvan.

 
22 Net die grond van die priesters het hy nie gekoop nie; want die priesters het ‘n vaste inkomste van Farao ontvang en van hulle vaste inkomste geëet wat Farao hulle toegestaan het. Daarom het hulle hul grond nie verkoop nie. 


23 Toe sê Josef aan die volk: Kyk, ek het vandag julle en jul grond vir Farao gekoop: daar is saadkoring vir julle, dat julle die grond kan besaai. 


24 En by die insameling moet julle ‘n vyfde deel aan Farao afgee, en die ander vier dele sal julle eiendom wees, as saad vir die land en as voedsel vir julleself en die wat in julle huise is, en as voeding vir julle kinders. 


25 En hulle antwoord: U het ons lewe gered. Laat ons guns mag vind in die oë van my heer, dan sal ons die dienaars van Farao wees. 


26 En Josef het dit ‘n wet gemaak tot vandag toe vir die saaigrond van Egipte—die vyfde deel behoort aan Farao. Net die grond van die priesters alleen het nie die eiendom van Farao geword nie. 


27 So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder.