Shabbat Shalom!
Welkom by Vayetzei - En Hy Het Weggegaan, hierdie week se Parasha.



Genesis 28:10 – 32:2



 *~Genesis Hoofstuk 28 ~*

 
10 En Jakob het uit Berséba vertrek en na Haran gegaan.

 
11 Daarop kom hy by ‘n plek waar hy die nag oorgebly het, want die son was al onder. En hy neem een van die klippe van die plek en sit dit onder sy hoof, en hy gaan lê en slaap op dié plek. 


12 En hy het gedroom—daar is ‘n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van ELOHIM daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het. 


13 En kyk, YAHUVEH het bo-aan gestaan en gesê: Ek is YAHUVEH, die ELOHIM van jou vader Abraham en die ELOHIM van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal EK aan jou en jou nageslag gee; 


14 en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. 


15 En kyk, EK is met jou, en EK sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en EK sal jou terugbring in hierdie land; want EK sal jou nie verlaat nie, totdat EK gedoen het wat EK jou gesê het. 


16 Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, YAHUVEH is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. 


17 En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as ‘n huis van ELOHIM nie, en dit is hier die poort van die hemel. 



18 Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as ‘n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. 


19 En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus. 


20 En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê: As ELOHIM met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek,

 
21 en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal YAHUVEH my ELOHIM wees. 


22 En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van ELOHIM wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.




 *~Genesis Hoofstuk 29~*


Toe lig Jakob sy voete op en gaan na die land van die kinders van die Ooste. 


En meteens sien hy ‘n put in die veld en drie troppe kleinvee wat daarby lê, want uit dié put het hulle die vee laat drink; en daar was ‘n groot klip op die opening van die put. 


En as al die troppe daar bymekaarkom, rol hulle die klip weg van die opening van die put en laat die vee drink; daarna sit hulle die klip weer op die opening van die put op sy plek. 

Toe sê Jakob vir hulle: My broers, waar is julle vandaan? En hulle antwoord: Ons kom van Haran. 


En hy vra hulle: Ken julle vir Laban, die seun van Nahor? En hulle antwoord: Ons ken hom. 


Verder sê hy vir hulle: Gaan dit goed met hom? En hulle antwoord: Dit gaan goed; en daar kom sy dogter Ragel aan met die vee. 


En hy sê: Kyk, die dag is nog lank; dit is nie tyd om die vee bymekaar te maak nie. Laat die vee drink, en gaan heen, laat hulle wei.

 
Toe antwoord hulle: Ons kan nie voordat al die troppe bymekaar is nie; dan rol hulle die klip weg van die opening van die put, en ons laat die vee drink.

 
Terwyl hy nog met hulle praat, kom Ragel met die kleinvee van haar vader aan, want sy het hulle opgepas.

 
10 Toe Jakob Ragel sien, die dogter van Laban, sy moeder se broer, en die vee van Laban, sy moeder se broer, loop Jakob nader en rol die klip weg van die opening van die put, en hy laat die vee drink van Laban, sy moeder se broer.

 
11 En Jakob het Ragel gesoen en sy stem verhef en geween. 


12 En Jakob het Ragel vertel dat hy haar vader se broer en die seun van Rebekka was. Daarop het sy geloop en dit aan haar vader vertel.

 
13 Toe Laban die tyding hoor van Jakob, die seun van sy suster, loop hy hom tegemoet en omhels hom en soen hom en bring hom in sy huis. En hy het aan Laban al hierdie dinge vertel. 


14 Toe sê Laban vir hom: Waarlik, jy is my been en my vlees. En hy het by hom ‘n volle maand gebly. 


15 Daarop het Laban aan Jakob gevra: Sou jy my verniet dien, omdat jy my broer is? Sê my wat jou loon moet wees. 


16 En Laban het twee dogters gehad—die naam van die oudste was Lea, en die naam van die jongste Ragel. 


17 En Lea het dowwe oë gehad, maar Ragel was skoon van gestalte en mooi van aansien. 


18 En Jakob het Ragel liefgehad, daarom het hy gesê: Ek sal u sewe jaar dien vir Ragel, u jongste dogter. 


19 Toe antwoord Laban: Dit is beter dat ek haar aan jou gee as dat ek haar aan ‘n ander man gee. Bly by my. 


20 So het Jakob dan sewe jaar gedien vir Ragel; en hulle was in sy oë soos ‘n paar dae, omdat hy haar liefgehad het. 


21 Toe sê Jakob vir Laban: Gee tog my vrou, want my dienstyd is om, dat ek by haar kan ingaan. 


22 Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en ‘n maaltyd berei. 


23 Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan.

 
24 En Laban het aan haar sy slavin Silpa gegee, naamlik aan sy dogter Lea, as slavin. 

25 En die anderdagmôre—daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg? 


26 En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie.

27 Hou die volle bruilofsweek met haar; dan sal ons jou die ander een ook gee vir die diens wat jy nóg sewe jaar by my moet volbring.

 


28 En Jakob het so gedoen: hy het die volle bruilofsweek met haar gehou. Toe gee hy sy dogter Ragel aan hom as vrou. 


29 En Laban het aan sy dogter Ragel sy slavin Bilha gegee as slavin vir haar. 


30 En hy het ook by Ragel ingegaan en Ragel ook meer liefgehad as Lea. En hy was by hom nóg sewe jaar in diens. 


31 En toe YAHUVEH sien dat Lea die nie-geliefde was, het HY haar skoot geopen; maar Ragel was onvrugbaar. 


32 En Lea het bevrug geword en ‘n seun gebaar en hom Ruben genoem; want sy het gesê: Gewis, YAHUVEH het my ellende aangesien, want nou sal my man my liefhê.

 
33 En sy het weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en gesê: Gewis, YAHUVEH het gehoor dat ek die nie-geliefde is en my hierdie een ook gegee. En sy het hom Símeon genoem. 


34 En sy het weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en gesê: Nou eindelik sal my man aan my geheg wees, omdat ek vir hom drie seuns gebaar het. Daarom het sy hom Levi genoem.

 
35 En sy het weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en gesê: Dié keer sal ek YAHUVEH loof. Daarom het sy hom Juda genoem. En sy het opgehou met baar.



*~Genesis Hoofstuk 30~*


En toe Ragel sien dat sy vir Jakob geen kinders baar nie, het Ragel jaloers geword op haar suster en aan Jakob gesê: Gee vir my kinders of anders sterf ek. 


Toe het Jakob kwaad geword vir Ragel en gevra: Is ek dan in die plek van ELOHIM wat die vrug van die skoot aan jou onthou het? 


En sy antwoord: Daar is my slavin Bilha; gaan by haar in, dat sy op my knieë kan baar en ek ook uit haar gebou kan word. 


Daarop het sy aan hom haar slavin Bilha as vrou gegee, en Jakob het by haar ingegaan.


En Bilha het swanger geword en vir Jakob ‘n seun gebaar.

 
Toe sê Ragel: ELOHIM het aan my reg verskaf en my ook verhoor en my ‘n seun gegee. Daarom het sy hom Dan genoem. 


En Bilha, die slavin van Ragel, het weer bevrug geword en vir Jakob ‘n tweede seun gebaar.

 
Toe sê Ragel: Ek het bomenslike worstelinge met my suster geworstel en ook oorwin. En sy het hom Náftali genoem. 


En toe Lea sien dat sy opgehou het met baar, neem sy haar slavin Silpa en gee haar aan Jakob as vrou.

 
10 En Silpa, die slavin van Lea, het vir Jakob ‘n seun gebaar. 


11 Toe sê Lea: Gelukkig! En sy het hom Gad genoem. 

12 Daarna het Silpa, die slavin van Lea, vir Jakob ‘n tweede seun gebaar. 


13 Toe sê Lea: Ek, gelukkige! want die dogters sal my gelukkig prys. En sy het hom Aser genoem.


14 En Ruben het in die dae van die koringoes gegaan en in die veld liefdesappels gevind en dié na sy moeder Lea gebring. Toe sê Ragel vir Lea: Gee my tog van jou seun se liefdesappels.

 
15 Maar sy antwoord haar: Is dit nie genoeg dat jy my man geneem het nie, dat jy ook my seun se liefdesappels wil neem? En Ragel sê: Daarom mag hy vir jou seun se liefdesappels vannag by jou slaap. 


16 Toe Jakob dan die aand uit die veld kom, gaan Lea hom tegemoet met die woorde: Jy moet na my kom, want ek het jou eerlik gehuur vir my seun se liefdesappels. En hy het dié nag by haar geslaap. 


17 En ELOHIM het Lea verhoor: sy het bevrug geword en vir Jakob ‘n vyfde seun gebaar. 


18 Toe sê Lea: ELOHIM het my loon gegee, omdat ek my slavin aan my man gegee het. En sy het hom Issaskar genoem. 


19 En Lea het weer bevrug geword en vir Jakob ‘n sesde seun gebaar. 


20 Toe sê Lea: ELOHIM het my ‘n mooi geskenk gegee; nou sal my man eindelik by my woon, want ek het vir hom ses seuns gebaar. En sy het hom Sébulon genoem. 


21 En daarna het sy ‘n dogter gebaar en haar Dina genoem. 


22 En ELOHIM het aan Ragel gedink, en ELOHIM het haar verhoor en haar skoot geopen: 


23 sy het bevrug geword en ‘n seun gebaar. Toe sê sy: ELOHIM het my smaad weggeneem. 


24 En sy het hom Josef genoem en gesê: Mag YAHUVEH vir my ‘n ander seun daar byvoeg! 


25 En nadat Ragel Josef gebaar het, sê Jakob vir Laban: Laat my trek, dat ek na my woonplek en my land kan gaan.

 
26 Gee my vroue en my kinders waarvoor ek u gedien het, dat ek kan gaan; want u weet self hoe ek u gedien het. 


27 Daarop antwoord Laban hom: As ek nou guns in jou oë gevind het—ek het waargeneem dat YAHUVEH my om jou ontwil geseën het. 


28 Verder sê hy: Bepaal vir my jou loon, en ek sal dit gee. 


29 Toe antwoord hy hom: U weet self hoe ek u gedien het en wat u vee by my geword het. 


30 Want min was dit wat u vóór my koms gehad het, en dit het sterk vermeerder; en YAHUVEH het u geseën op my voetspoor. Wanneer sal ek dan nou ook vir my huis werk?

 
31 En hy vra: Wat moet ek jou gee? Toe antwoord Jakob: U hoef my niks te gee nie. As u hierdie ding vir my wil doen, wil ek weer u kleinvee oppas, ja, versorg— 


32 ek sal vandag deur al u kleinvee deurgaan en daaruit al die gestippelde en bont vee uitkeer; al die vee onder die skaaplammers wat swart is, en die bontes en gestippeldes onder die bokke, dit moet my loon wees. 


33 En my regverdigheid sal later vir my getuig: as u kom om my loon na te gaan, sal alles wat nie gestippel of bont is onder die bokke, en wat nie swart is onder die skaaplammers nie, gesteelde goed by my wees. 


34 Toe antwoord Laban: Goed, laat dit wees volgens jou woord! 

35 En hy het dieselfde dag uitgekeer die gestreepte en bont bokke en al die gestippelde en bont bokooie, almal wat wit aan hulle gehad het, en almal wat swart was onder die skaaplammers, en dié aan sy seuns afgegee. 


36 En hy het ‘n afstand van drie dae bepaal tussen hom en Jakob; en Jakob het die orige kleinvee van Laban opgepas.

 
37 Toe neem Jakob vir hom groen latte van populier—, amandel— en plataanhout, en hy skil daarin wit strepe, sodat die wit van die latte uitkom;

 
38 en hy sit die latte wat hy geskil het, vlak voor die vee in die trogge, in die drinkbakke waar die vee kom drink het; en hulle het verhit geword as hulle kom drink. 


39 En die vee het verhit geword by die latte, en die vee het gelam gestreeptes, gestippeldes en bontes. 


40 Toe skei Jakob die lammers, en hy draai die koppe van die vee na die gestreeptes en almal wat swart was onder Laban se vee. En hy het vir hom afsonderlike troppe gemaak en dié nie onder Laban se vee gesit nie. 


41 En elke keer as die sterkste diere verhit word, sit Jakob die latte voor die oë van die vee in die trogge, sodat hulle verhit sou word by die latte. 


42 Maar as die vee swakkerig was, het hy dit nie ingesit nie; so was dan die swakkes vir Laban en die sterkes vir Jakob. 


43 En die man het buitengewoon uitgebrei en baie kleinvee en slavinne en slawe en kamele en esels gehad.


*~Genesis Hoofstuk 31~*


(vers 13 : die EL)


Toe hoor hy die woorde van die seuns van Laban, dat hulle sê: Jakob het alles geneem wat ons vader s’n was; en uit wat ons vader s’n was, het hy al hierdie rykdom verwerf. 


Jakob het ook meteens aan die aangesig van Laban gesien dat hy nie meer vir hom was soos gister en eergister nie.


En YAHUVEH het aan Jakob gesê: Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal met jou wees. 


Toe stuur Jakob en laat Ragel en Lea veld toe roep na sy kleinvee 


en sê vir hulle: Ek sien dat die aangesig van julle vader teenoor my nie meer is soos gister en eergister nie, maar die ELOHIM van my vader was met my. 


En julle weet self dat ek met al my krag julle vader gedien het;

 
maar julle vader het my bedrieg: hy het my loon tien maal verander. Maar ELOHIM het hom nie toegelaat om my skade aan te doen nie.

 
As hy sê: Die gestippeldes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestippeldes.

En as hy sê: Die gestreeptes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestreeptes. 


So het ELOHIM dan die vee van julle vader weggeneem en aan my gegee. 


10 Eenkeer, in die tyd toe die kleinvee verhit was, het ek my oë opgeslaan en in ‘n droom gesien dat die bokramme wat die kleinvee dek, gestreep, gestippeld en bont was. 


11 En die Engel van ELOHIM sê vir my in die droom: Jakob! En ek antwoord: Hier is ek! 


12 En Hy sê: Slaan tog jou oë op en kyk: al die bokramme wat die kleinvee dek, is gestreep, gestippeld en bont, want EK het alles gesien wat Laban jou aandoen. 


13 EK is die EL van Bet-el waar jy die gedenksteen gesalf het, waar jy aan MY ‘n gelofte gedoen het. Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan terug na jou geboorteland. 


14 Toe antwoord Ragel en Lea en sê vir hom: Het ons nog deel of erfenis in die huis van ons vader? 


15 Word ons nie deur hom as vreemdelinge beskou nie? Want hy het ons verkoop en die geld wat deur ons verkry is, geheel en al deurgebring.

 
16 Want al die rykdom wat ELOHIM van ons vader weggeneem het, kom ons en ons kinders toe. Doen dan nou alles wat ELOHIM jou gesê het. 


17 Toe maak Jakob hom klaar en laai sy kinders en sy vroue op die kamele, 


18 en hy voer al sy vee weg en al sy goed wat hy versamel het, die vee wat syne was, wat hy in Paddan-Aram versamel het, om te gaan na sy vader Isak in die land Kanaän. 


19 Onderwyl Laban gaan om sy kleinvee te skeer, het Ragel die huisgode van haar vader gesteel. 


20 En Jakob het Laban, die Arameër, mislei deur hom nie te vertel dat hy wou vlug nie. 


21 So het hy dan gevlug met alles wat hy gehad het: hy het hom klaargemaak en deur die Eufraat gegaan en sy aangesig gerig na die gebergte van Gílead. 


22 En op die derde dag kry Laban die tyding dat Jakob gevlug het. 


23 Daarop het hy sy broers saam met hom geneem en hom agternagejaag, ‘n afstand van sewe dae, en hom ingehaal in die gebergte van Gílead. 


24 Maar ELOHIM het na Laban, die Arameër, in die nag gekom in ‘n droom en vir hom gesê: Pas nou op dat jy met Jakob geen goed of kwaad spreek nie. 


25 En Laban het Jakob ingehaal; Jakob het sy tent al opgeslaan gehad in die gebergte, en Laban met sy broers het dit opgeslaan in die gebergte van Gílead. 


26 Toe vra Laban vir Jakob: Wat het jy gedoen dat jy my mislei en my dogters soos krygsgevangenes weggevoer het?

 

27 Waarom het jy stilletjies gevlug en my mislei en my dit nie vertel nie, dat ek jou met vrolikheid en liedere, met tamboeryn en siter kon weggebring het?

 
28 Ook het jy my nie toegelaat om my seuns en dogters te soen nie. Nou het jy dwaas gehandel. 


29 Dit is in my mag om julle skade aan te doen, maar die ELOHIM van julle vader het verlede nag met my gespreek en gesê: Pas nou op om met Jakob geen goed of kwaad te spreek nie. 


30 Nou is jy dan eenmaal aan trek, omdat jy so erg verlang het na die huis van jou vader—maar waarom het jy my gode gesteel?

 
31 Toe antwoord Jakob en sê vir Laban: Omdat ek bevrees was, want ek het gedink u sal miskien u dogters met geweld van my wegneem.


32 Die een by wie u u gode vind—hy mag nie lewe nie! Ondersoek wat by my is, in teenwoordigheid van ons broers, en neem dit vir u. Maar Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie.

 
33 Toe gaan Laban in die tent van Jakob en in die tent van Lea en in die tent van die twee slavinne, maar hy het niks gekry nie; en toe hy uit die tent van Lea uitgaan, kom hy in die tent van Ragel. 


34 Maar Ragel het die huisgode geneem en dit in die kameelsaal weggepak en daarop gaan sit. En Laban het die hele tent deurgevoel, maar niks gekry nie. 


35 Daarop sê sy vir haar vader: My heer moet nie baie kwaai kyk nie, omdat ek nie vir u kan opstaan nie; want dit gaan met my volgens die reël van die vroue. En hy het gesoek maar die huisgode nie gekry nie. 


36 Toe word Jakob kwaad, en hy het met Laban getwis; en Jakob het geantwoord en vir Laban gesê: Wat is my oortreding, wat is my sonde, dat u my so vurig agternagesit het? 


37 Nou dat u al my goed deurgevoel het—wat het u van al u huisraad gevind? Sit dit hier neer voor my broers en u broers, en laat hulle oordeel tussen ons twee. 


38 Twintig jaar was ek nou by u. U skaap— en bokooie het geen misdrag gehad nie, en die ramme van u kleinvee het ek nie geëet nie.

 
39 Wat die wilde diere verskeur het, het ek nie na u gebring nie: ek moes dit vergoed; van my hand het u dit geëis, of dit al bedags gesteel is of snags gesteel is. 


40 Ek was ‘n man wat bedags deur die hitte verteer is en snags deur die koue, en my slaap het gevlug van my oë. 


41 Twintig jaar was ek nou in u huis; veertien jaar het ek u gedien vir u twee dogters en ses jaar vir u kleinvee; en u het my loon tien maal verander. 


42 As die ELOHIM van my vader, die ELOHIM van Abraham en die Vrees van Isak, nie aan my kant was nie—ja, dan sou u my met leë hande weggestuur het. ELOHIM het my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande aangesien en verlede nag geoordeel. 


43 Toe antwoord Laban en sê vir Jakob: Die dogters is my dogters, en die seuns is my seuns, en die kleinvee is my kleinvee, ja, alles wat jy sien, is myne; maar my dogters—wat sal ek hulle vandag kan aandoen of aan hulle seuns wat hulle gebaar het? 


44 Kom dan nou, laat ons ‘n verbond sluit, ek en jy, dat dit ‘n getuie tussen my en jou kan wees. 


45 Daarop het Jakob ‘n klip geneem en dit as gedenksteen opgerig. 


46 En Jakob het aan sy broers gesê: Bring klippe bymekaar! En hulle het klippe gaan haal en ‘n hoop gemaak en daar op die hoop geëet.


47 En Laban het dit Jegar-Sahadúta genoem, maar Jakob het dit Gal-ed genoem. 


48 Toe sê Laban: Hierdie hoop is vandag ‘n getuie tussen my en jou. Daarom het hulle dit Gal-ed genoem, 


49 en ook Mispa, omdat hy gesê het: Mag YAHUVEH wag hou tussen my en jou as ons mekaar nie meer sien nie. 


50 As jy my dogters mishandel, en as jy vroue neem by my dogters, dan is geen mens by ons nie: Kyk, ELOHIM is getuie tussen my en jou. 


51 Verder sê Laban vir Jakob: Daar is dié hoop klippe, en daar is die gedenksteen wat ek tussen my en jou opgerig het— 


52 hierdie hoop klippe is getuie, en die gedenksteen is getuie dat ék na jou kant toe hierdie hoop nie sal verbytrek nie, en dat jy na my kant toe hierdie hoop en hierdie gedenksteen nie sal verbytrek met slegte bedoelinge nie. 


53 Die ELOHIM van Abraham en die ELOHIM van Nahor, die ELOHIM van hulle vader, sal regter tussen ons wees. En Jakob het gesweer by die Vrees van sy vader Isak. 


54 Toe het Jakob ‘n offer gebring op die gebergte en sy broers genooi om brood te eet. En hulle het brood geëet en die nag in die gebergte oorgebly. 


55 En Laban het die môre vroeg opgestaan en sy seuns en sy dogters gesoen en hulle geseën. Daarna het Laban vertrek en teruggekeer na sy woonplek.




*~Genesis Hoofstuk 32~*


Jakob het ook verder gereis, en die engele van ELOHIM het hom ontmoet. 


Toe hy hulle sien, sê Jakob: Dit is ‘n leër van ELOHIM! En hy het die plek Mahanáim genoem.