Shabbat Shalom!
Welkom by Parasha Vayeshev - En Hy het Gelewe, hierdie week se Parasha.



Genesis 37:1 - 40:23



 *~Genesis Hoofstuk 37 ~*


En Jakob het gewoon in die land van die vreemdelingskap van sy vader, in die land Kanaän. 


Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers—hy was nog jonk—met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring. 


En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom ‘n seun van die ouderdom; en hy het vir hom ‘n lang rok met moue gemaak. 


Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie. 


Ook het Josef ‘n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat. 


Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het. 


Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig. 


Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde. 


Daarna het hy nog ‘n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog ‘n droom gehad—die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig. 


10 Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir ‘n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?


11 En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou. 


12 En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas. 


13 Toe sê Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur. En hy antwoord hom: Hier is ek! 


14 Toe sê hy vir hom: Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my berig terug. So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom. 


15 Daarop kry ‘n man hom terwyl hy in die veld ronddwaal, en die man vra hom: Wat soek jy? 


16 En hy antwoord: Ek soek my broers. Vertel my tog waar hulle die vee oppas. 


17 Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind. 


18 En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak. 


19 En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan! 


20 Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: ‘n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word. 


21 Toe Ruben dit hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te sê: Laat ons hom nie doodslaan nie.

 
22 Ruben het ook vir hulle gesê: Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie—sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring. 


23 En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het, 


24 en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was geen water in nie. 


25 Daarna het hulle gaan sit om brood te eet; en toe hulle hul oë opslaan, sien hulle meteens ‘n reisgeselskap Ismaeliete wat uit Gílead kom—hulle kamele gelaai met speserye en balsem en gom op pad om dit na Egipte af te bring. 


26 Toe sê Juda aan sy broers: Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg? 


27 Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister.

 
28 En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En húlle het Josef na Egipte gebring.

 
29 Toe Ruben by die put terugkom, was Josef nie in die put nie! Daarop skeur hy sy klere, 


30 en hy gaan na sy broers terug en sê: Die seun is nie daar nie! En ek, waar moet ek heen? 


31 Toe neem hulle Josef se rok, en hulle slag ‘n bok en steek die rok in die bloed, 


32 en hulle stuur die lang rok weg en laat dit na hulle vader bring met die woorde: Dit het ons gevind. Kyk tog goed of dit die rok van u seun is of nie. 


33 En hy het dit herken en gesê: Die rok van my seun! ‘n Wilde dier het hom opgeëet. Verskeur, verskeur is Josef! 


34 Toe skeur Jakob sy klere en trek ‘n roukleed om sy heupe, en hy het oor sy seun gerou, baie dae lank. 


35 En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: Nee, treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal! So het sy vader hom dan beween. 


36 En die Midianiete het hom na Egipte verkoop aan Pótifar, ‘n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag.


 

 *~Genesis Hoofstuk 38~*


In dié tyd het Juda afgetrek, van sy broers af weg, en uitgedraai na ‘n man van Adúllam met die naam van Hira. 


En Juda het daar die dogter van ‘n Kanaänitiese man gesien met die naam van Sua; en hy het met haar getrou en by haar ingegaan. 


En sy het bevrug geword en ‘n seun gebaar, en sy het hom Er genoem.

 
Daarna het sy weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en hom Onan genoem. 


En sy het nog weer ‘n seun gebaar en hom Sela genoem; en hy was in Kesib toe sy hom gebaar het. 


En Juda het vir Er, sy eersgeborene, ‘n vrou geneem, en haar naam was Tamar. 


Maar Er, die eersgeborene van Juda, het YAHUVEH mishaag. Daarom het YAHUVEH hom laat sterwe. 


Toe sê Juda vir Onan: Gaan in by die vrou van jou broer en sluit die swaershuwelik met haar en verwek vir jou broer ‘n nageslag.

 
Maar Onan het geweet dat die nageslag nie syne sou wees nie; daarom het hy, elke keer as hy by die vrou van sy broer ingaan, dit op die grond verderwe om vir sy broer geen nageslag te gee nie. 


10 En dit was verkeerd in die oë van YAHUVEH wat hy gedoen het; daarom het HY hom ook laat sterwe. 


11 Toe sê Juda vir Tamar, sy skoondogter: Bly ‘n weduwee in die huis van jou vader totdat my seun Sela groot is. Want hy het gedink: Anders sterwe hy ook soos sy broers! So het Tamar dan gaan woon in die huis van haar vader.

 
12 En ná verloop van geruime tyd het die dogter van Sua, die vrou van Juda, gesterwe. En toe Juda klaar getreur het, het hy opgegaan na die skeerders van sy kleinvee, na Timna toe, hy en sy vriend Hira, die Adullamiet. 


13 En hulle het Tamar te kenne gegee en gesê: Kyk, jou skoonvader gaan op na Timna om sy kleinvee te skeer. 


14 Toe trek sy die klere van haar weduweeskap uit en bedek haar met ‘n sluier en draai haar toe; en sy het gaan sit by die ingang van Enaim wat op die pad na Timna lê. Want sy het gesien dat Sela groot geword het, maar sy was aan hom nie as vrou gegee nie.

 
15 Toe Juda haar sien, het hy haar vir ‘n hoer gehou, omdat sy haar gesig toegebind het; 


16 en hy het na haar uitgedraai by die pad en gesê: Kom tog, laat my by jou ingaan; want hy het nie geweet dat dit sy skoondogter was nie. En sy vra: Wat sal jy my gee as jy by my ingaan? 


17 En hy antwoord: Ek sal jou ‘n boklam van die kleinvee af stuur. Toe sê sy: As jy ‘n pand gee totdat jy dit stuur.

 
18 En hy sê: Wat is die pand wat ek jou moet gee? Toe antwoord sy: Jou seëlring met die bandjie en jou staf wat in jou hand is. Hy gee dit toe aan haar en gaan by haar in, en sy het by hom swanger geword.

 
19 En sy het opgestaan en weggegaan en haar sluier afgehaal en die klere van haar weduweeskap aangetrek. 


20 En Juda het die boklam gestuur deur middel van sy vriend, die Adullamiet, om die pand uit die hand van die vrou te gaan haal. Maar hy het haar nie gevind nie.

 
21 Toe vra hy die mense van haar woonplek: Waar is daardie hoer wat in Enaim by die pad was? En hulle antwoord: Hier was geen hoer nie.

 
22 Daarop gaan hy na Juda terug met die berig: Ek het haar nie gevind nie. En die mense van die plek het ook gesê: Hier was geen hoer nie. 


23 Toe sê Juda: Laat sy dit hou, dat ons nie ‘n bespotting word nie. Kyk, ek het hierdie boklam gestuur, maar jy het haar nie gevind nie. 


24 Ná omtrent drie maande het hulle Juda laat weet en gesê: Tamar, jou skoondogter, het gehoereer, en sy is ook swanger deur hoerery! En Juda sê: Bring haar uit, dat sy verbrand kan word. 


25 Terwyl sy uitgebring word, laat sy haar skoonvader dit weet: By die man aan wie hierdie dinge behoort, is ek swanger. En sy het gesê: Kyk tog mooi aan wie hierdie seëlring en bandjies en staf behoort.

 
26 En Juda het dit herken en gesê: Sy het reg teenoor my, want ek het haar mos nie aan my seun Sela gegee nie. En hy het haar verder nie meer beken nie. 


27 En toe sy sou baar, was daar ‘n tweeling in haar skoot. 


28 En terwyl sy baar, het een die hand uitgesteek; en die vroedvrou het dit gegryp en ‘n rooi draad om sy hand gebind en gesê: Hierdie een is eerste gebore.

 
29 Maar toe hy sy hand teruggetrek het, word sy broer gebore! En sy sê: Hoe kragtig het jy deurgebreek! En hulle het hom Peres genoem. 


30 En daarna is sy broer gebore aan wie se hand die rooi draad was. En hulle het hom Serag genoem.




*~Genesis Hoofstuk 39~*


En Josef is afgebring na Egipte; en Pótifar, ‘n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag, ‘n Egiptiese man, het hom gekoop uit die hand van die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het. 


En YAHUVEH was met Josef, sodat hy ‘n voorspoedige man was; en hy het in die huis van sy heer, die Egiptenaar, gebly. 


En toe sy heer sien dat YAHUVEH met hom was, en dat YAHUVEH alles wat hy doen, in sy hand voorspoedig maak,

 
het Josef guns in sy oë gevind en hom gedien; en hy het hom aangestel oor sy huis, en alles wat in sy besit was, aan hom oorgegee. 


En vandat hy hom aangestel het oor sy huis en oor alles wat in sy besit was, het YAHUVEH die huis van die Egiptenaar geseën ter wille van Josef; ja, die seën van YAHUVEH was by alles wat syne was, in die huis en op die veld.

 
En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy geëet het. En Josef was skoon van gestalte en mooi van aansien. 


Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my. 


Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê: Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee. 


Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen ELOHIM? 


10 En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie, 


11 kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie.

 
12 Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop.

 
13 Toe sy dan sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly en buitentoe gevlug het, 


14 roep sy na haar huisgenote en sê aan hulle: Kyk, hy het vir ons ‘n Hebreeuse man hier gebring om met ons gek te skeer; hy het na my gekom om met my gemeenskap te hê, en ek het hard geskreeu; 


15 en toe hy hoor dat ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en gevlug en na buite geloop. 


16 En sy het sy kleed by haar neergelê totdat sy heer tuisgekom het. 


17 En sy het hom met dieselfde woorde aangespreek en gesê: Die Hebreeuse kneg wat jy vir ons hier gebring het, het na my gekom om met my gek te skeer; 


18 en toe ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en na buite gevlug. 


19 Toe sy heer die woorde hoor waarmee sy vrou hom aanspreek: So en so het jou kneg aan my gedoen—het hy baie kwaad geword; 


20 en die heer van Josef het hom laat vang en hom in die gevangenis gesit op die plek waar die gevangenes van die koning opgesluit was; en hy was daar in die gevangenis. 


21 Maar YAHUVEH was met Josef, en HY het goedertierenheid aan hom bewys en hom guns verleen in die oë van die owerste van die gevangenis. 


22 En die owerste van die gevangenis het almal wat in die gevangenis opgesluit was, aan Josef toevertrou; en alles wat daar te doen was, het hy gedoen. 


23 Die owerste van die gevangenis het glad nie na iets omgekyk wat aan hom toevertrou was nie, omdat YAHUVEH met hom was; en wat hy doen, het YAHUVEH voorspoedig laat wees.



*~Genesis Hoofstuk 40~*


Ná hierdie dinge het die skinker van die koning van Egipte en die bakker hulle misgaan jeens hulle heer, die koning van Egipte, 


sodat Farao baie kwaad geword het vir sy twee hofdienaars, die voorman van die skinkers en die voorman van die bakkers. 


En hy het hulle in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, in die gevangenis, die plek waar Josef gevange was. 


En die owerste van die lyfwag het Josef by hulle aangestel om hulle te bedien. En hulle was ‘n tyd lank in bewaring. 


En hulle het altwee ‘n droom gehad, elkeen sy droom, in dieselfde nag, elkeen ‘n droom met besondere betekenis, die skinker en die bakker van die koning van Egipte, wat in die gevangenis gevange gesit het. 


En Josef het die volgende môre by hulle gekom en gesien dat hulle ontstemd was. 


Toe vra hy die hofdienaars van Farao wat by hom in bewaring was in die huis van sy heer, en sê: Waarom lyk julle aangesig vandag so droewig? 


En hulle antwoord hom: Ons het ‘n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie. En Josef vra hulle: Is uitlegging nie ‘n saak van ELOHIM nie? Vertel my tog. 


Toe vertel die voorman van die skinkers aan Josef sy droom en sê vir hom: In my droom was daar ‘n wingerdstok voor my, 


10 en aan die wingerdstok was drie ranke; en skaars het hy gebot of sy bloeisel was uit, sy trosse het ryp druiwe geword. 


11 En die beker van Farao was in my hand. En ek het die druiwe geneem en dit in die beker van Farao uitgedruk en die beker in die hand van Farao gegee. 


12 Toe sê Josef vir hom: Dit is die uitlegging daarvan: die drie ranke is drie dae. 


13 Binne drie dae sal Farao jou hoof verhef—jou in jou rang herstel; en jy sal die beker van Farao in sy hand gee net soos vroeër toe jy sy skinker was. 


14 Hou my tog net in gedagte as dit met jou goed gaan, en bewys my tog ‘n guns en maak melding van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit; 


15 want ek is gesteel, ja gesteel, uit die land van die Hebreërs, en ek het hier ook niks gedoen dat hulle my in die gevangenis gesit het nie. 


16 Toe die voorman van die bakkers sien dat hy ‘n gunstige uitlegging gegee het, sê hy aan Josef: Ook in my droom—toe was daar drie mandjies met witbrood op my hoof, 


17 en in die boonste mandjie was allerhande eetware vir Farao deur bakkers klaargemaak, en die voëls het dit uit die mandjie bo-op my hoof weggepik. 


18 Toe antwoord Josef en sê: Dit is die uitlegging daarvan—die drie mandjies is drie dae. 


19 Binne drie dae sal Farao jou hoof bo-oor jou verhef—hy sal jou aan ‘n paal ophang, en die voëls sal jou vlees van jou af wegpik. 


20 En op die derde dag, die verjaarsdag van Farao, het hy ‘n maaltyd vir al sy dienaars berei en die hoof van die voorman van die skinkers en die hoof van die voorman van die bakkers te midde van sy dienaars verhef— 


21 hy het die voorman van die skinkers herstel in sy skinkersamp, sodat hy die beker in die hand van Farao kon gee, 


22 maar die voorman van die bakkers het hy opgehang soos Josef dit aan hulle uitgelê het. 


23 En die voorman van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, maar hom vergeet.