Shabbat Shalom!
Welkom by Toldot - Generasies, hierdie week se Parasha.



Genesis 25:19 – 28:9



 *~ Genesis Hoofstuk 25 ~*


19 En dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak. 


20 En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Bétuel, die Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het. 


21 En Isak het YAHUVEH gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en YAHUVEH het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het. 


22 En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om YAHUVEH te raadpleeg.

 
23 En YAHUVEH het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien. 


24 En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar ‘n tweeling in haar skoot.

 
25 En die eerste is gebore—rooi, geheel en al soos ‘n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem. 


26 En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.

 
27 En die seuns het opgegroei: Esau het ‘n ervare jagter geword, ‘n man van die veld; maar Jakob was ‘n vredeliewende man wat in tente gewoon het. 


28 En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad.

 
29 En Jakob het ‘n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom. 


30 Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem. 


31 En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my.

 
32 En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan? 


33 Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. 


34 En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.



 *~ Genesis Hoofstuk 26 ~*



En daar was hongersnood in die land, buiten die eerste hongersnood wat in die dae van Abraham gewees het. Daarom het Isak getrek na Abiméleg, die koning van die Filistyne, na Gerar. 


En YAHUVEH het aan hom verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys. 


Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. 


En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; 


omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.

 
So het Isak dan in Gerar gebly. 


En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my suster. Want hy was bang om te sê: My vrou—anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi van aansien.

 
En toe hy al ‘n lang tyd daar was, kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou. 


En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan miskien om haar ontwil my lewe verloor! 


10 En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ‘n skuld oor ons gebring het! 


11 Daarop gee Abiméleg bevel aan die hele volk en sê: Wie hierdie man of sy vrou aanraak, sal sekerlik gedood word. 


12 Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want YAHUVEH het hom geseën.

 
13 En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot was: 


14 hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne hom beny het. 


15 En al die putte wat die dienaars van sy vader in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, dié het die Filistyne toegestop en met grond opgevul. 


16 Toe sê Abiméleg vir Isak: Trek weg van ons, want jy het vir ons veels te magtig geword. 


17 Daarop het Isak vandaar weggetrek en laer opgeslaan in die dal by Gerar en daar bly woon. 


18 En Isak het die putte weer oopgegrawe wat hulle in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, en wat die Filistyne ná die dood van Abraham toegestop het, en dit genoem na die name wat sy vader daaraan gegee het. 


19 En terwyl die dienaars van Isak in die dal grawe, vind hulle daar ‘n put met lewendige water. 


20 En die herders van Gerar het getwis met die herders van Isak en gesê: Dit is óns water. Daarom het hy die put Esek genoem, omdat hulle met hom onenigheid gehad het.

 
21 Daarop grawe hulle ‘n ander put, en daaroor het hulle ook getwis. Daarom het hy dit Sitna genoem.

 
22 Toe het hy vandaar versit en ‘n ander put gegrawe, en daaroor is nie getwis nie. Daarom het hy dit Réhobot genoem en gesê: Ja, nou het YAHUVEH vir ons ruimte gemaak en kan ons vrugbaar wees in die land. 


23 Daarna het hy vandaar opgetrek na Berséba. 


24 En YAHUVEH het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die ELOHIM van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg. 


25 Toe bou hy daar ‘n altaar, en hy het die Naam van YAHUVEH aangeroep en daar sy tent opgeslaan; en die dienaars van Isak het daar ‘n put gegrawe.

 

26 Daarop kom Abiméleg na hom van Gerar af, saam met Ahussat, sy vriend, en Pigol, sy leërowerste. 


27 En Isak het hulle gevra: Waarom het julle na my gekom terwyl julle my haat en my van julle af weggestuur het? 


28 Toe antwoord hulle: Ons het duidelik gesien dat YAHUVEH met jou is. Daarom het ons gedink: Laat daar tog ‘n eed tussen ons wees, tussen ons en jou; en laat ons ‘n verbond met jou sluit: 


29 jy moet ons geen kwaad doen nie, net soos ons jou nie aangeraak en aan jou niks as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het. Jy is nou eenmaal die geseënde van YAHUVEH.

 
30 Toe berei hy vir hulle ‘n maaltyd, en hulle het geëet en gedrink. 


31 En hulle is die môre vroeg op en het vir mekaar ‘n eed gesweer. Daarop het Isak hulle laat gaan, en hulle het in vrede van hom af weggetrek. 


32 Dieselfde dag kom toe die dienaars van Isak en vertel hom van die put wat hulle gegrawe het, en sê vir hom: Ons het water gekry. 


33 En hy het dit Seba genoem. Daarom is die naam van die stad Berséba tot vandag toe.

 
34 Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Judit, die dogter van Beëri, die Hetiet, vir hom as vrou geneem, en Basmat, die dogter van Elon, die Hetiet. 


35 En hulle was vir Isak en Rebekka ‘n bitter verdriet.


*~ Genesis Hoofstuk 27 ~*


Toe Isak oud geword het en sy oë swak was, sodat hy nie kon sien nie, het hy sy oudste seun Esau geroep en vir hom gesê: My seun! En hy het hom geantwoord: Hier is ek! 


Toe sê hy: Kyk tog, ek het oud geword, ek weet die dag van my dood nie. 


Neem dan nou tog jou wapens, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit in die veld en jag vir my ‘n stuk wild 


en maak vir my lekker ete klaar soos ek dit graag wil hê; en bring dit vir my om te eet; sodat my siel jou kan seën voordat ek sterwe. 


En Rebekka het geluister terwyl Isak met sy seun Esau spreek. En Esau het in die veld gegaan om ‘n stuk wild te jag en dit te bring. 


Toe het Rebekka met haar seun Jakob gespreek: Kyk, ek het jou vader met jou broer Esau hoor spreek en sê: 


Bring vir my ‘n stuk wild en maak vir my lekker ete, dat ek kan eet en jou kan seën voor die aangesig van YAHUVEH voor my dood.

 
My seun, luister dan nou na my, na wat ek jou beveel. 


Loop nou na die kleinvee en gaan haal vir my daar twee mooi bokkies, dat ek jou vader daarvan ‘n lekker ete kan maak soos hy dit graag wil hê. 


10 Dan moet jy dit na jou vader bring, dat hy kan eet; sodat hy jou kan seën voor sy dood. 


11 Toe sê Jakob vir sy moeder Rebekka: Kyk, my broer Esau is ‘n harige man en ek is ‘n gladde man. 


12 Miskien sal my vader my betas, en ek sal in sy oë wees soos ‘n spotter; so sou ek dan ‘n vloek oor my bring en nie ‘n seën nie.

 
13 Maar sy moeder antwoord hom: Laat jou vloek op my wees, my seun! Luister net na my en gaan haal dit vir my.

 
14 Toe het hy dit gaan haal en na sy moeder gebring. En sy moeder het daarvan ‘n lekker ete gemaak soos sy vader dit graag wou hê. 


15 Ook neem Rebekka die beste klere van Esau, haar oudste seun, wat by haar in die huis was, en sy trek dit vir Jakob, haar jongste seun, aan; 


16 en die velle van die bokkies trek sy oor sy hande en oor die gladdigheid van sy nek, 


17 en sy gee die lekker ete en die brood wat sy gemaak het, in die hand van Jakob, haar seun. 


18 Toe kom hy by sy vader en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek! Wie is jy, my seun?


19 En Jakob sê aan sy vader: Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen soos u my beveel het. Rig u tog op, sit en eet van my wildsvleis, dat u siel my kan seën.


20 Daarop het Isak aan sy seun gesê: Hoe het jy dit so gou gekry, my seun? En hy antwoord: Omdat YAHUVEH u ELOHIM dit my laat teëkom het. 


21 En Isak sê vir Jakob: Kom tog nader, dat ek jou kan betas, my seun, of jy waarlik my seun Esau is of nie. 


22 En Jakob het nader gekom na sy vader Isak, en hy het hom betas en gesê: Die stem is Jakob se stem, maar die hande is Esau se hande. 


23 Maar hy het hom nie geëien nie, omdat sy hande harig was soos sy broer Esau se hande; en hy het hom geseën. 


24 Hy het naamlik gevra: Is jy waarlik my seun Esau? En hy het geantwoord: Ja. 


25 Toe sê hy: Bring dit vir my nader, dat ek van die wildsvleis van my seun kan eet, sodat my siel jou kan seën. En hy het dit vir hom nader gebring, en hy het geëet. Hy het vir hom ook wyn gebring, en hy het gedrink. 


26 Daarop sê sy vader Isak vir hom: Kom tog nader en soen my, my seun! 


27 En hy het nader gekom en hom gesoen. Toe ruik hy die geur van sy klere, en hy seën hom en sê: Kyk, die geur van my seun is soos die geur van die veld wat YAHUVEH geseën het.

 
28 En mag ELOHIM jou gee van die dou van die hemel en van die vet grond van die aarde en oorvloed van koring en mos. 


29 Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees ‘n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en geseënd hulle wat jou seën.

 
30 Maar toe Isak Jakob klaar geseën het en Jakob nog skaars van sy vader Isak af weggegaan het, kom sy broer Esau van die jag af, 


31 en hy maak ook ‘n lekker ete en bring dit na sy vader en sê aan sy vader: Laat my vader hom oprig en eet van die wildsvleis van sy seun, sodat u siel my kan seën. 


32 En sy vader Isak vra hom: Wie is jy? En hy antwoord: Ek is u seun Esau, u eersgeborene. 


33 Toe skrik Isak geweldig en sê: Wie is dit dan wat wild gejag en vir my gebring het? En ek het van alles geëet voordat jy gekom het, en hom geseën—ook sal hy geseënd bly! 


34 Toe Esau die woorde van sy vader hoor, skreeu hy met ‘n baie groot en bitter geroep, en hy sê vir sy vader: Seën my ook, my vader! 


35 En hy antwoord: Jou broer het gekom met bedrog en jou seën weggeneem. 


36 Daarop sê hy: Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my seën geneem! Verder vra hy: Het u vir my geen seën oorgehou nie? 


37 Toe antwoord Isak en sê vir Esau: Kyk, ek het hom as heerser oor jou gestel en aan hom al sy broers as dienaars gegee; en ek het hom met koring en mos versorg. Wat kan ek dan nou vir jóu doen, my seun? 


38 Daarop het Esau aan sy vader gevra: Het u net een seën, my vader? Seën my ook, my vader! En Esau het sy stem verhef en geween. 


39 Toe antwoord sy vader Isak en sê vir hom: Kyk, ver van die vet grond van die aarde sal jou woonplek wees, en ver van die dou van die hemel daarbo. 


40 En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk. 


41 En Esau was Jakob vyandig gesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak. 


42 Maar toe hulle aan Rebekka die woorde van Esau, haar oudste seun, vertel, stuur sy en laat Jakob, haar jongste seun, roep en sê vir hom: Kyk, jou broer Esau sal hom op jou wreek deur jou dood te maak. 


43 My seun, luister dan nou na my: maak jou klaar, vlug tog na Haran, na my broer Laban, 


44 en bly ‘n rukkie by hom tot die woede van jou broer bedaar, 


45 tot die toorn van jou broer teen jou bedaar en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Dan sal ek stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor? 


46 Verder sê Rebekka vir Isak: Ek is moeg vir my lewe vanweë die dogters van Het. As Jakob ‘n vrou neem uit die dogters van Het, soos húlle is, uit die dogters van die land—waarvoor lewe ek dan?



*~ Genesis Hoofstuk 28 ~*


Toe het Isak Jakob geroep en hom geseën; en hy het hom bevel gegee met die woorde: Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kanaän nie. 


Maak jou klaar, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Bétuel, jou moeder se vader, en gaan haal vir jou daar ‘n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder se broer. 


En mag EL SHADDAI, die Almagtige, jou seën en jou vrugbaar maak en jou vermeerder, sodat jy ‘n menigte van volke kan word. 


En mag Hy jou gee die seën van Abraham, aan jou en jou nageslag saam met jou, dat jy die land van jou vreemdelingskap in besit kan neem wat ELOHIM aan Abraham gegee het. 


So het Isak Jakob dan weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, die seun van Bétuel, die Arameër, die broer van Rebekka, die moeder van Jakob en Esau. 


Toe Esau sien dat Isak Jakob geseën en hom na Paddan-Aram weggestuur het om daar vir hom ‘n vrou te gaan haal, terwyl hy hom geseën en hom bevel gegee het met die woorde: Jy mag geen vrou uit die dogters van Kanaän neem nie; 


en dat Jakob na sy vader en sy moeder geluister het om na Paddan-Aram te gaan; 


en toe Esau sien dat die dogters van Kanaän sleg was in die oë van sy vader Isak, 


het Esau na Ismael gegaan en Máhalat, die dogter van Ismael, die seun van Abraham, die suster van Nébajot, by sy vroue vir hom as vrou geneem.