Shabbat Shalom!
Baie welkom by Parasha Noach - Noag, hierdie week se Torah gedeelte.



Genesis 6:9–11:32; 


HOOFSTUK 6

9 Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met ELOHIM gewandel.

10 En Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet.

11 Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van ELOHIM, en die aarde was vol geweld.

12 Toe sien ELOHIM die aarde aan, en—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.

13 En ELOHIM sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.

14 Maak vir jou ‘n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik bestryk.

15 Só moet jy dit maak: drie honderd el die lengte van die ark, vyftig el sy breedte en dertig el sy hoogte.

16 ‘n Opening moet jy aan die ark maak; en op die maat van ‘n el moet jy dit aan die bokant afwerk en die deur van die ark aan die sykant insit. Jy moet dit met ‘n onderste, tweede en derde verdieping maak.

17 Want kyk, Ék bring ‘n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar ‘n lewensgees in is. Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe.

18 Maar met jou sal Ek my verbond oprig; jy moet in die ark gaan, jy en jou seuns en jou vrou en die vroue van jou seuns saam met jou.

19 En van al wat lewe, van alle vlees, moet jy twee van elke soort in die ark laat ingaan om dit saam met jou in die lewe te hou: mannetjie en wyfie moet hulle wees.

20 Van die voëls volgens hulle soorte en van die vee volgens hulle soorte, van al die kruipende diere van die aarde volgens hulle soorte, twee van elke soort, moet na jou kom om in die lewe te bly.

21 En jy, neem vir jou van al die voedsel wat geëet word, en versamel dit by jou, dat dit vir jou en hulle as voedsel kan dien.

22 En Noag het dit gedoen. Net soos ELOHIM hom beveel het, so het hy gedoen.


HOOFSTUK 7

1 Daarna het YAHUVEH aan Noag gesê: Gaan in die ark, jy en jou hele huisgesin, want jou het Ek regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag.

2 Van al die rein diere moet jy vir jou telkens sewe paar neem, die mannetjie met sy wyfie; maar van die diere wat nie rein is nie, twee, die mannetjie met sy wyfie.

3 Ook van die voëls van die hemel telkens sewe paar, die mannetjie met die wyfie, om die geslag in die lewe te hou op die hele aarde.

4 Want oor nog sewe dae sal Ek laat reën op die aarde, veertig dae en veertig nagte, en al die lewende wesens wat Ek gemaak het, van die aarde verdelg.

5 En Noag het gedoen net soos YAHUVEH hom beveel het.

6 En Noag was ses honderd jaar oud toe die watervloed oor die aarde gekom het.

7 En Noag en sy seuns en sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom het in die ark gegaan vanweë die waters van die vloed.

8 Van die rein diere en van die diere wat nie rein is nie, en van die voëls en van alles wat op die aarde kruip,

9 het daar twee-twee na Noag in die ark gegaan, ‘n mannetjie en ‘n wyfie, soos ELOHIM Noag beveel het.

10 Ná die sewe dae kom toe die waters van die vloed op die aarde.

11 In die ses honderdste jaar van die lewe van Noag, in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand, op dieselfde dag, is al die fonteine van die groot watervloed oopgebreek, en die sluise van die hemel is geopen;

12 en die stortreën was op die aarde veertig dae en veertig nagte lank.

13 Op daardie selfde dag het Noag en Sem en Gam en Jafet, die seuns van Noag, sowel as die vrou van Noag en die drie vroue van sy seuns saam met hulle in die ark gegaan.

14 Hulle en al die wilde diere volgens hulle soorte en al die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die aarde kruip, volgens hulle soorte en al die voëls volgens hulle soorte, voëls van allerhande vere—

15 van al die vlees waar ‘n lewensgees in was, het twee-twee na Noag in die ark gegaan.

16 En die wat ingaan, het gegaan as mannetjie en wyfie van alle vlees soos ELOHIM hom beveel het. En YAHUVEH het agter hom toegesluit.

17 En die vloed was veertig dae lank op die aarde: die waters het vermeerder en die ark opgehef, sodat dit opgerys het bo die aarde.

18 En die waters het die oorhand gekry en grootliks vermeerder op die aarde, terwyl die ark op die waters drywe.

19 En die waters het heeltemal die oorhand gekry op die aarde, sodat al die hoë berge onder die ganse hemel bedek was.

20 Vyftien el bo hulle het die waters die oorhand gekry, sodat die berge bedek was.

21 En alle vlees wat op die aarde beweeg, het weggesterwe: die voëls en die vee en die wilde diere en al die gedierte wat op die aarde wemel, en al die mense.

22 Alles wat die asem van die lewensgees in sy neusgate gehad het, alles wat op die droë grond was, het doodgegaan.

23 So is dan al die lewende wesens verdelg wat op die aarde was, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; hulle is verdelg van die aarde af. En net Noag het oorgebly en wat by hom in die ark was.

24 En die waters het die oorhand behou oor die aarde honderd en vyftig dae lank.


HOOFSTUK 8

1 En ELOHIM het gedink aan Noag en aan al die wilde diere en al die vee wat saam met hom in die ark was; en ELOHIM het ‘n wind oor die aarde laat waai, sodat die waters gesak het.

2 Ook die fonteine van die watervloed en die sluise van die hemel het toegegaan, en die stortreën uit die hemel het opgehou.

3 Toe het die waters geleidelik van die aarde teruggegaan, en die waters het afgeneem aan die end van honderd en vyftig dae.

4 En die ark het in die sewende maand, op die sewentiende dag van die maand, op die gebergte van Ararat gerus.

5 En die waters het geleidelik afgeneem tot die tiende maand. In die tiende maand, op die eerste van die maand, het die toppe van die berge sigbaar geword.

6 Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het,

7 en ‘n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die waters weggedroog het van die aarde af.

8 Daarop laat hy ‘n duif van hom af wegvlieg om te sien of die waters oor die aarde verminder het.

9 Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die ark; want die waters was oor die hele aarde. So het hy dan sy hand uitgesteek en hom gegryp en in die ark by hom gebring.

10 Daarna het hy weer sewe dae gewag. Toe stuur hy die duif weer uit die ark.

11 En die duif het teen die aand na hom gekom, en daar was ‘n groen olyfblad in sy bek! Toe merk Noag dat die waters oor die aarde verminder het.

12 Daarna wag hy weer sewe dae en stuur die duif uit. Maar hy het nie weer na hom teruggekeer nie.

13 In die ses honderd en eerste jaar, in die eerste maand, op die eerste van die maand, het die waters weggedroog van die aarde af. En Noag het die deksel van die ark weggeneem en uitgekyk, en die aarde was droog—

14 in die tweede maand, op die sewe en twintigste dag van die maand, was die aarde droog.

15 En ELOHIM het met Noag gespreek en gesê:

16 Gaan uit die ark, jy en jou vrou en jou seuns en die vroue van jou seuns saam met jou.

17 Laat saam met jou uitgaan al die diere wat by jou is, van alle vlees: die voëls en die vee en al die diere wat op die aarde kruip, dat hulle kan wemel op die aarde en vrugbaar wees en vermeerder op die aarde.

18 Toe gaan Noag uit en sy seuns en sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom.

19 Al die diere, alles wat kruip, en al die voëls, alles wat op die aarde beweeg, volgens hulle soorte, het uit die ark uitgegaan.

20 En Noag het vir YAHUVEH ‘n altaar gebou en van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring.

21 En YAHUVEH het die lieflike geur geruik, en YAHUVEH het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie.

22 Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.


HOOFSTUK 9

1 En ELOHIM het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.

2 Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee.

3 Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle.

4 Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie.

5 Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis.

6 Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want ELOHIM het die mens na sy beeld gemaak.

7 Maar julle, wees vrugbaar en vermeerder; wemel op die aarde en vermeerder daarop.

8 Verder het ELOHIM met Noag en sy seuns by hom gespreek en gesê:

9 Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle,

10 en met al die lewende wesens wat by julle is: die voëls, die vee en al die wilde diere van die aarde by julle—al wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere van die aarde.

11 En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie.

12 En ELOHIM het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte:

13 my boog gee Ek in die wolke; dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en die aarde.

14 As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke,

15 dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer ‘n vloed word om alle vlees te verdelg nie.

16 As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen ELOHIM en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is.

17 En ELOHIM het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.

18 En die seuns van Noag wat uit die ark uitgegaan het, was Sem en Gam en Jafet. En Gam was die vader van Kanaän.

19 Hierdie drie was die seuns van Noag; en met hulle begin die uitbreiding van al die aardbewoners.

20 En Noag het as landbouer ‘n wingerd begin plant.

21 Maar toe hy van die wyn gedrink het, het hy dronk geword en naak in sy tent gelê.

22 En Gam, die vader van Kanaän, het sy vader se naaktheid gesien en dit aan sy twee broers daarbuite te kenne gegee.

23 Toe neem Sem en Jafet die bo-kleed en hou dit op hulle skouers terwyl hulle agteruitloop, en hulle het die naaktheid van hulle vader bedek: hulle gesig was agtertoe gedraai, sodat hulle die naaktheid van hulle vader nie gesien het nie.

24 Toe Noag van sy wyn wakker word en merk wat sy jonger seun hom aangedoen het,

25 sê hy: Vervloek is Kanaän! ‘n Kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers.

26 Verder het hy gesê: Geseënd is YAHUVEH, die ELOHIM van Sem. Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.

27 Mag ELOHIM aan Jafet ruimte verskaf, en mag hy woon in die tente van Sem! Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.

28 En Noag het ná die vloed drie honderd en vyftig jaar gelewe.

29 So was dan al die dae van Noag nege honderd en vyftig jaar, en hy het gesterwe.


HOOFSTUK 10

1 En dit is die stamboom van die seuns van Noag: Sem, Gam en Jafet—vir hulle is daar seuns gebore ná die vloed.

2 Die seuns van Jafet was: Gomer en Magog en Madai en Jawan en Tubal en Meseg en Tiras.

3 En die seuns van Gomer was: Askenas en Rifat en Togárma.

4 En die seuns van Jawan was: Elísa en Tarsis, die Kittiërs en Dodaniete—

5 uit hulle het verdeeld geraak die kuslande van die nasies, in hulle lande, elkeen na sy taal, volgens hulle geslagte, in hulle nasies.

6 En die seuns van Gam was: Kus en Misraim en Put en Kanaän.

7 En die seuns van Kus was: Seba en Háwila en Sabta en Raéma en Sábtega. En die seuns van Raéma: Skeba en Dedan.

8 Kus was ook die vader van Nimrod. Hy het begin om ‘n geweldenaar op aarde te wees.

9 Hy was ‘n geweldige jagter voor die aangesig van YAHUVEH. Daarom sê hulle: Soos Nimrod, ‘n geweldige jagter voor die aangesig van YAHUVEH.

10 En die begin van sy ryk was Babel en Ereg en Akkad en Kalne in die land Sínear.

11 Uit hierdie land het hy getrek na Assur en gebou: Ninevé en Réhobot-Ir en Kalag

12 en Resen, tussen Ninevé en Kalag—dit is die groot stad.

13 En Misraim was die vader van die Ludiete en Anamiete en Lehabiete en Naftuhiete

14 en die Patrusiete en Kasluhiete—waaruit die Filistyne voortgekom het—en Kaftoriete.

15 En Kanaän was die vader van Sidon, sy eersgeborene, en Het

16 en die Jebusiete en Amoriete en Girgasiete

17 en die Hewiete en Arkiete en Siniete

18 en die Arwadiete en Semariete en Hamatiete. En daarna het die geslagte van die Kanaäniete hulle versprei.

19 En die gebied van die Kanaäniete was van Sidon af in die rigting van Gerar tot by Gasa, in die rigting van Sodom en Gomorra en Adma en Sebóim tot by Lesa.

20 Dit was die seuns van Gam volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle lande, in hulle nasies.

21 En ook vir Sem, die stamvader van al die seuns van Heber, die ouer broer van Jafet, is seuns gebore.

22 Die seuns van Sem was: Elam en Assur en Arpagsad en Lud en Aram.

23 En die seuns van Aram was: Us en Hul en Geter en Mas.

24 En Arpagsad was die vader van Selag, en Selag van Heber.

25 En vir Heber is twee seuns gebore; die naam van die een was Peleg, want in sy dae het die aardbewoners verdeeld geraak; en die naam van sy broer was Joktan.

26 En Joktan was die vader van Almódad en Selef en Hasarmáwet en Jerag

27 en Hadóram en Usal en Dikla

28 en Obal en Abímael en Skeba

29 en Ofir en Háwila en Jobab. Hulle almal was seuns van Joktan.

30 En hulle woonplek was van Mesa af in die rigting van Sefar, die berg van die Ooste.

31 Dit is die seuns van Sem volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle lande, volgens hulle nasies.

32 Dit is die geslagte van die seuns van Noag volgens hulle afstamming, in hulle nasies; en uit hulle het die nasies op die aarde hulle verdeel ná die vloed.


HOOFSTUK 11

1 En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde.

2 En toe hulle wegtrek na die ooste, vind hulle ‘n laagte in die land Sínear; en daar het hulle gaan woon.

3 Daarop sê hulle vir mekaar: Kom laat ons stene vorm en dit goed brand. Hulle gebruik toe die bakstene vir bousteen en die lymgrond vir klei.

4 En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.

5 Toe daal YAHUVEH neer om die stad en die toring te besien waaraan die mensekinders gebou het.

6 En YAHUVEH sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie.

7 Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie.

8 So het YAHUVEH hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en hulle het opgehou om die stad te bou.

9 Daarom het hulle dit Babel genoem, want daar het YAHUVEH die taal van die hele aarde verwar, en daarvandaan het YAHUVEH hulle oor die hele aarde verstrooi.

10 Dit is die stamboom van Sem: Toe Sem honderd jaar oud was, het hy die vader van Arpagsad geword, twee jaar ná die vloed.

11 En Sem het ná die geboorte van Arpagsad nog vyf honderd jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.

12 Toe Arpagsad vyf en dertig jaar oud was, het hy die vader van Selag geword.

13 En Arpagsad het ná die geboorte van Selag nog vier honderd en drie jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.

14 Toe Selag dertig jaar oud was, het hy die vader van Heber geword.

15 En Selag het ná die geboorte van Heber nog vier honderd en drie jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.

16 Toe Heber vier en dertig jaar oud was, het hy die vader van Peleg geword.

17 En Heber het ná die geboorte van Peleg nog vier honderd en dertig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.

18 Toe Peleg dertig jaar oud was, het hy die vader van Rehu geword.

19 En Peleg het ná die geboorte van Rehu nog twee honderd en nege jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.

20 Toe Rehu twee en dertig jaar oud was, het hy die vader van Serug geword.

21 En Rehu het ná die geboorte van Serug nog twee honderd en sewe jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.

22 Toe Serug dertig jaar oud was, het hy die vader van Nahor geword.

23 En Serug het ná die geboorte van Nahor twee honderd jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.

24 Toe Nahor nege en twintig jaar oud was, het hy die vader van Tera geword.

25 En Nahor het ná die geboorte van Tera nog honderd en negentien jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.

26 Toe Tera sewentig jaar oud was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran.

27 En dit is die stamboom van Tera: Tera het die vader geword van Abram, Nahor en Haran, en Haran van Lot.

28 En Haran het gesterwe terwyl sy vader Tera nog geleef het, in sy geboorteland, in Ur van die Chaldeërs.

29 En Abram en Nahor het vir hulle vroue geneem. Die naam van Abram se vrou was Sarai, en die naam van Nahor se vrou was Milka, die dogter van Haran, die vader van Milka en die vader van Jiska.

30 En Sarai was onvrugbaar, sy het geen kind gehad nie.

31 En Tera het sy seun Abram geneem en Lot, die seun van Haran, sy kleinseun, en Sarai, sy skoondogter, die vrou van sy seun Abram, en dié het saam met hulle uit Ur van die Chaldeërs getrek om na die land Kanaän te gaan. En hulle het tot by Haran gekom en daar gaan woon.

32 En die dae van Tera was twee honderd en vyf jaar, en Tera het in Haran gesterwe.