Shabbat Shalom! En Gelukkige Hanukkah!
Welkom by Parasha Miketz - Aan die Einde, hierdie week se Parasha.
Genesis 41:1 - 44:17
*~Genesis Hoofstuk 41~*
1 Ná verloop van twee volle jare het Farao gedroom dat hy by die Nyl staan;
2 en
kyk, daar kom sewe koeie uit die Nyl uit op wat mooi van aansien en
vet van vleis was, en hulle het gaan wei in die rietgras.
3 En
kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie uit die Nyl uit op wat
lelik van aansien en maer van vleis was, en hulle het by die ander
koeie op die wal van die Nyl gaan staan.
4 En
die koeie wat lelik van aansien en maer van vleis was, het die sewe
koeie wat mooi van aansien en vet was, opgeëet. Toe het Farao
wakker geword.
5 En
hy het weer aan die slaap geraak en nog ‘n keer gedroom; en
kyk, sewe vet en mooi are skiet op aan een steel;
6 en
ná hulle spruit daar sewe are uit wat maer en deur die
oostewind verskroei was;
7 en
die maer are het die sewe vet en vol are verslind. Toe het Farao
wakker geword en kyk, dit was ‘n droom!
8 Dié
môre was sy gees onrustig, en hy het al die towenaars en al die
wyse manne van Egipte laat roep; en Farao het aan hulle sy droom
vertel, maar niemand kon dit aan Farao uitlê nie.
9 Toe
het die voorman van die skinkers met Farao gespreek en gesê: Ek
moet vandag my sondes in gedagtenis bring.
10 Farao
was baie kwaad vir sy dienaars en het my in bewaring gegee in die
huis van die owerste van die lyfwag, my en die voorman van die
bakkers.
11 En
ons het in dieselfde nag ‘n droom gehad, ek en hy; ons het
gedroom, elkeen ‘n droom met besondere betekenis.
12 En
daar was by ons ‘n Hebreeuse jongman, ‘n kneg van die
owerste van die lyfwag—aan hom het ons dit vertel, en hy het
ons drome vir ons uitgelê; aan elkeen het hy die uitlegging
volgens sy droom gegee.
13 En
soos hy ons dit uitgelê het, so het dit gebeur—my het hy
in my rang herstel, maar hom opgehang.
14 Toe
laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis
uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het
by Farao gekom.
15 Toe
sê Farao vir Josef: Ek het ‘n droom gehad, en daar is
niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor
verklaar dat jy ‘n droom net hoef te hoor om dit uit te lê.
16 En
Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! ELOHIEM
sal Farao ‘n gunstige antwoord gee.
17 Toe
sê Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal
van die Nyl,
18 en
sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van
uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras.
19 En
kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik
van uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die
ganse Egipteland nie gesien nie.
20 En
die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet:
21 dié
het in hulle maag ingegaan, maar ‘n mens kon nie merk dat hulle
in hul maag ingegaan het nie; want hulle aansien was lelik soos in
die begin. Toe het ek wakker geword.
22 Daarna het ek in my droom gesien, en kyk, sewe vol en mooi are skiet op aan een steel.
23 En
ná hulle spruit daar sewe are uit wat dor, maer en deur die
oostewind verskroei was;
24 en
die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. En ek het dit aan
die towenaars meegedeel, maar niemand kon my inligting gee nie.
25 Toe
sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een en dieselfde.
Wat ELOHIEM van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee.
26 Die
sewe mooi koeie is sewe jare; en die sewe mooi are is sewe jare; die
droom is een en dieselfde.
27 En
die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is
sewe jare; en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are sal
sewe jare van hongersnood wees.
28 Dit
is die woord wat ek tot Farao gespreek het: wat ELOHIEM van plan is
om te doen, het Hy Farao laat sien.
29 Kyk,
daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland;
30 maar
daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal
in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer.
31 En
van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens dié
hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees.
32 En
wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is—dit
is omdat die saak deur ELOHIEM vas besluit is en ELOHIEM dit gou sal
doen.
33 Laat
Farao dan nou uitkyk na ‘n verstandige en wyse man en hom
aanstel oor Egipteland.
34 Farao
moet so maak en opsigters oor die land aanstel en in die sewe jare
van oorvloed die vyfde deel hef van die opbrings van Egipteland.
35 En
hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, versamel en
onder leiding van Farao koring ophoop as voedsel in die stede en dit
wegbêre.
36 So
sal dan die voedsel ‘n voorraad wees vir die land vir die sewe
jare van hongersnood wat in Egipteland sal kom, sodat die land nie
deur die hongersnood te gronde gaan nie.
37 En
die woord was goed in die oë van Farao en van al sy dienaars.
38 Daarop
het Farao aan sy dienaars gesê: Kan ons wel iemand vind soos
hierdie man in wie die Gees van ELOHIEM is?
39 En
Farao sê vir Josef: Aangesien ELOHIEM dit alles aan jou bekend
gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie.
40 Jy
moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik;
alleen deur die troon sal ek groter wees as jy.
41 Verder
het Farao vir Josef gesê: Kyk, ek stel jou aan oor die hele
Egipteland.
42 Toe
trek Farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand
van Josef; en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue
ketting om sy hals gehang
43 en
hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas
op! So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel.
44 En
Farao sê vir Josef: Ek is Farao, maar sonder jou mag niemand sy
hand of voet in die hele Egipteland verroer nie.
45 En
Farao het Josef genoem Sáfenat-Panéag en aan hom
Asenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, as vrou
gegee. En Josef het uitgetrek oor Egipteland.
46 En
Josef was dertig jaar oud toe hy voor Farao, die koning van Egipte,
gestaan het; en Josef het van Farao af weggegaan en die hele
Egipteland deurgetrek.
47 En
die land het met handvolle opgelewer in die sewe jare van oorvloed.
48 Toe
het hy al die voedsel van die sewe jare versamel wat in Egipteland
gekom het, en voedsel in die stede weggesit—die voedsel van die
land wat rondom elke stad was, het hy daarin weggesit.
49 So
het Josef dan ‘n baie groot hoeveelheid koring opgehoop soos
die sand van die see, totdat hulle opgehou het om te tel, want dit
was ontelbaar.
50 En
vir Josef is twee seuns gebore—voordat die jaar van hongersnood
gekom het—wat Asenat, die dogter van Potiféra, die
priester van On, vir hom gebaar het.
51 En
Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy gesê,
ELOHIEM het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my
vader.
52 En
die tweede het hy Efraim genoem; want, het hy gesê, ELOHIEM het
my vrugbaar gemaak in die land van my ellende.
53 Toe
het die sewe jare van oorvloed wat daar in Egipteland was, ten einde
gekom,
54 en
die sewe jare van hongersnood het begin aankom soos Josef voorspel
het. En daar was hongersnood in al die lande, maar in die hele
Egipteland was daar brood.
55 En
toe die hele Egipteland honger gely en die volk na Farao geroep het
om brood, sê Farao aan al die Egiptenaars: Gaan na Josef, doen
wat hy julle sê.
56 En
die hongersnood was oor die hele oppervlakte van die aarde, en Josef
het alles waarin iets was, oopgemaak en aan die Egiptenaars verkoop;
en die hongersnood was swaar in Egipteland.
57 En
die hele wêreld het na Josef in Egipte gekom om koring te koop,
want die hongersnood was swaar op die hele aarde.
*~Genesis Hoofstuk 42~*
1 Toe Jakob merk dat daar koring in Egipte was, het Jakob aan sy seuns gesê: Wat kyk julle so na mekaar?
2 En
hy sê: Kyk, ek het gehoor dat daar koring in Egipte is; trek
daarheen af, en koop vir ons daar koring, dat ons kan lewe en nie
sterwe nie.
3 Daarop
het tien van Josef se broers afgetrek om koring uit Egipte te koop.
4 Maar
Benjamin, die broer van Josef, het Jakob nie saam met sy broers
gestuur nie; want hy het gedink: Altemit kan ‘n ongeluk hom
oorkom.
5 So
het die seuns van Israel dan gekom om koring te koop onder diegene
wat daar aangekom het; want daar was hongersnood in die land Kanaän.
6 En
Josef was die maghebber oor die land, hy wat aan al die mense van die
land koring verkoop het; daarom het die broers van Josef gekom en
hulle voor hom met die aangesig na die aarde gebuig.
7 Sodra
Josef sy broers sien, het hy hulle herken maar hom vreemd teenoor
hulle gehou en hulle hard aangespreek en vir hulle gesê: Waar
kom julle vandaan? En hulle antwoord: Uit die land Kanaän om
voedsel te koop.
8 En
Josef het sy broers herken, maar húlle het hom nie herken
nie.
9 Toe
dink Josef aan die drome wat hy aangaande hulle gedroom het; en hy sê
vir hulle: Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land
oop is.
10 Maar
hulle het hom geantwoord: Nee, my heer, maar u dienaars het gekom om
voedsel te koop.
11 Ons
is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen
spioene nie.
12 Toe
sê hy vir hulle: Nee, maar julle het gekom om te kyk waar die
land oop is.
13 En
hulle antwoord: U dienaars is twaalf in getal, ons is broers, seuns
van een man in die land Kanaän; en kyk, die jongste is nou by
ons vader, maar die een is daar nie meer nie.
14 Toe
sê Josef vir hulle: Dit is wat ek julle gesê het: Julle
is spioene!
15 Hieraan
sal julle getoets word: so waar as Farao leef, julle sal hiervandaan
nie trek tensy dat julle jongste broer hierheen kom nie.
16 Stuur
een van julle, dat hy julle broer gaan haal, maar júlle moet
in die gevangenis bly. So sal dan julle woorde getoets word, of die
waarheid by julle is of nie. So waar as Farao leef, julle is
spioene!
17 Daarop
het hy hulle saam drie dae lank in bewaring laat hou.
18 En
op die derde dag sê Josef vir hulle: Doen dit, dan sal julle
lewe; ek vrees ELOHIEM!
19 As
julle eerlike mense is, laat een van julle broers gevange bly in die
huis waar julle in bewaring is; maar gaan júlle, bring die
koring vir die honger van julle huisgesinne weg,
20 en
bring julle jongste broer na my toe—dan sal julle woorde waar
gemaak word, en julle sal nie sterwe nie. En hulle het so gedoen.
21 Toe
sê hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanweë ons
broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons
gesmeek het en ons nie geluister het nie—daarom kom hierdie
benoudheid oor ons.
22 Daarop
antwoord Ruben hulle: Het ek nie vir julle gesê nie: Besondig
julle nie aan die seun nie? Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so
word dan ook sy bloed geëis.
23 En
hulle het nie geweet dat Josef dit verstaan nie, want daar was ‘n
tolk tussen hulle.
24 Toe
draai hy hom van hulle af weg en ween. Daarna het hy na hulle
teruggegaan en met hulle gespreek; en hy het Símeon onder
hulle uitgeneem en hom voor hulle oë gebind.
25 Daarop
gee Josef bevel om hulle sakke vol koring te maak en elkeen se geld
weer in sy sak te sit en om aan hulle padkos vir die reis saam te
gee. En so is aan hulle gedoen.
26 En
hulle het die koring op hulle esels gelaai en daar weggetrek.
27 En
toe die een sy sak oopmaak om sy esel in die herberg voer te gee,
sien hy sy geld; en kyk, dit was somaar bo in sy sak!
28 En
hy sê vir sy broers: My geld is teruggegee; hier lê dit
dan ook in my sak! Toe het hulle hart hul begewe, en hulle draai
verskrik na mekaar toe en sê: Wat het ELOHIEM ons nou
aangedoen?
29 En
hulle het by hul vader Jakob in die land Kanaän gekom en hom
alles vertel wat hulle wedervaar het en gesê:
30 Die
man, die heer van die land, het ons hard aangespreek en ons vir
spioene van die land gehou.
31 Maar
ons het aan hom gesê: Ons is eerlike mense, ons is geen spioene
nie.
32 Ons
is twaalf broers, seuns van ons vader; die een is daar nie meer nie,
en die jongste is nou by ons vader in die land Kanaän.
33 Daarop
het die man, die heer van die land, aan ons gesê: Hieraan sal
ek weet dat julle eerlike mense is—laat een van julle broers by
my bly; en neem vir die honger van julle huisgesinne en trek weg,
34 en
bring julle jongste broer na my toe; dan sal ek weet dat julle geen
spioene is nie. As julle eerlike mense is, sal ek julle broer aan
julle teruggee, en julle mag in die land rondtrek.
35 En
toe hulle hul sakke leegmaak, was elkeen se bondeltjie geld daar in
sy sak! En toe hulle hul bondeltjies geld sien, hulle en hul vader,
was hulle bevrees.
36 Daarop
sê Jakob, hulle vader, vir hulle: Julle beroof my van kinders.
Josef is weg! En Símeon is weg! En Benjamin wil julle wegneem!
Alles is teen my!
37 Toe
spreek Ruben sy vader aan en sê: U kan my twee seuns doodmaak
as ek hom nie na u terugbring nie. Vertrou hom aan my toe, en ék
sal hom na u terugbring.
38 Maar
hy sê: My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer
is dood, en hy het alleen oorgebly; en as ‘n ongeluk hom oorkom
op die pad wat julle sal gaan, dan sal julle my grys hare met kommer
in die doderyk laat afdaal.
*~Genesis Hoofstuk 43~*
1 En die hongersnood was swaar in die land.
2 En
nadat die koring wat hulle uit Egipte gebring het, opgeëet was,
sê hulle vader vir hulle: Gaan koop vir ons weer ‘n
bietjie voedsel.
3 Toe
het Juda hom geantwoord: Die man het ons uitdruklik gewaarsku en
gesê: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by
julle is nie.
4 As
u ons broer saam met ons stuur, sal ons aftrek en vir u voedsel
koop;
5 maar
as u hom nie stuur nie, sal ons nie aftrek nie; want die man het aan
ons gesê: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by
julle is nie.
6 Toe
sê Israel: Waarom het julle so verkeerd teen my gehandel deur
die man te vertel dat julle nog ‘n broer het?
7 En
hulle antwoord: Die man het uitdruklik na ons en ons familie gevra
met die woorde: Lewe julle vader nog? Het julle nog ‘n broer?
Toe het ons hom dit te kenne gegee volgens hierdie woorde. Kon ons
dan ooit weet dat hy sou sê: Bring julle broer af?
8 Daarop
sê Juda aan sy vader Israel: Stuur die seun saam met my; dan
sal ons klaarmaak en wegtrek, sodat ons kan lewe en nie sterwe
nie—ons en ook u en ons kinders nie.
9 Ek
sal vir hom borg wees; van my hand kan u hom eis. As ek hom nie na u
bring en voor u stel nie, sal ek lewenslank teenoor u skuldig staan.
10 Ja,
as ons nie getalm het nie, waarlik dan was ons nou al twee maal
terug.
11 Toe
het Israel, hulle vader, vir hulle gesê: As dit so is, doen dan
dit: neem van die opbrings van die land in julle sakke en bring vir
die man ‘n geskenk af—bietjie balsem en bietjie heuning,
speserye en gom, neute en amandels;
12 en
neem dubbel soveel geld met julle saam en bring die geld wat weer bo
in julle sakke gesit is, met julle saam terug. Miskien was dit ‘n
vergissing.
13 En
neem julle broer—maak julle klaar en gaan terug na die man.
14 En
mag EL SHADDAI, julle barmhartigheid verleen by die man, sodat hy
julle ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek! En ek—as
ek van kinders beroof is, dan is ek beroof.
15 Daarop
neem die manne dié geskenk, en hulle neem dubbel soveel geld
saam met hulle en ook Benjamin, en hulle het klaargemaak en na Egipte
afgetrek en voor Josef gaan staan.
16 Toe
Josef Benjamin by hulle sien, sê hy aan die opsigter oor sy
huis: Bring die manne in die huis en slag slagvee en maak dit gereed,
want die manne moet vanmiddag by my eet.
17 En
die man het gedoen soos Josef beveel het, en die man het die manne in
die huis van Josef gebring.
18 En
die manne het gevrees, omdat hulle in die huis van Josef gebring is,
en gesê: Ter wille van die geld wat die vorige keer in ons
sakke teruggekom het, word ons ingebring om ons te oorrompel, ons te
oorval en ons as slawe te neem, saam met ons esels.
19 Daarom
het hulle nader gekom na die man wat oor die huis van Josef was, en
met hom gespreek by die ingang van die huis
20 en
gesê: Ag, my heer, ons het die vorige keer net afgetrek om
voedsel te koop,
21 maar
toe ons in die herberg kom en ons sakke oopmaak, was elkeen se geld
bo in sy sak—ons geld volgens sy gewig—en ons het dit
saam met ons teruggebring.
22 Ons
het ook ander geld saam met ons afgebring om voedsel te koop. Ons
weet nie wie ons geld in ons sakke gesteek het nie.
23 Toe
antwoord hy: Vrede vir julle! Moenie bang wees nie! Julle ELOHIEM en
die ELOHIEM van julle vader het julle ‘n skat in jul sakke
gegee. Julle geld het by my gekom. Daarop het hy Símeon na
hulle uitgebring.
24 En die man het die manne in die huis van Josef gebring en water aan hulle gegee, en hulle het hul voete gewas; hy het ook hulle esels voer gegee.
25 En
hulle het die geskenk reggemaak teen dat Josef die middag sou kom,
want hulle het gehoor dat hulle daar brood sou eet.
26 Toe
Josef dan in die huis kom, het hulle vir hom die geskenk binnegebring
wat by hulle was, en hulle voor hom neergebuig na die aarde toe.
27 En
hy het hulle na hul welstand gevra en gesê: Gaan dit goed met
julle ou vader van wie julle gespreek het? Leef hy nog?
28 En
hulle antwoord: Dit gaan goed met u dienaar, ons vader; hy lewe nog.
En hulle het hul eerbiedig neergebuig.
29 Toe
slaan hy sy oë op en sien sy broer Benjamin, die seun van sy
moeder, en sê: Is dit julle jongste broer van wie julle met my
gespreek het? Daarop sê hy: Mag ELOHIEM jou genadig wees, my
seun!
30 En
Josef het gou gemaak, want sy binneste was ontroerd oor sy broer: hy
het geleentheid gesoek om te ween en in die kamer gegaan en daar
geween.
31 Daarna
het hy sy gesig gewas en uitgekom en hom bedwing en gesê: Bring
die ete op!
32 Toe
bring hulle dit vir hom besonders op en vir hulle besonders en vir
die Egiptenaars wat by hom eet, besonders; want die Egiptenaars mag
nie saam met die Hebreërs eet nie, omdat dit vir die Egiptenaars
‘n gruwel is.
33 En
hulle het gaan sit volgens sy bepaling, die eersgeborene na sy
eersgeboorte en die jongste na sy jonkheid. Toe kyk die manne mekaar
verbaas aan.
34 Hierop
het hy aan hulle porsies uitgedeel van die ete wat voor hom staan;
maar die porsie van Benjamin was vyf maal groter as die porsies van
hulle almal. En hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword.
*~Genesis Hoofstuk 44~*
1 Toe gee hy bevel aan die opsigter oor sy huis en sê: Maak die sakke van die manne vol met lewensmiddele soveel as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak;
2 en
my beker, die silwerbeker, moet jy bo in die jongste se sak sit saam
met die geld vir sy koring. En hy het gehandel volgens die woord wat
Josef gespreek het.
3 Toe
dit die môre lig word, het hulle die manne laat trek, hulle met
hul esels.
4 Hulle
het uit die stad uitgetrek, hulle was nog nie ver nie toe Josef aan
die opsigter oor sy huis sê: Maak jou klaar en jaag die manne
agterna; en as jy hulle inhaal, vra hulle dan: Waarom het julle kwaad
vir goed vergelde?
5 Is
dit nie die ding waaruit my heer drink en waarmee hy altyd waarneem
nie? Julle het verkeerd gehandel met wat julle gedoen het.
6 En
hy het hulle ingehaal en hierdie woorde aan hulle meegedeel.
7 Toe
sê hulle vir hom: Waarom spreek my heer sulke woorde? Dit is
ver van u dienaars om so iets te doen.
8 Kyk,
geld wat ons bo in ons sakke gevind het, het ons uit die land Kanaän
aan u teruggebring hoe sou ons dan silwer of goud uit die huis van u
heer kan steel?
9 Dié
een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterwe; en ons sal
ook my heer se slawe wees.
10 Toe
sê hy: Nou goed, laat dit wees soos julle gesê het. Dié
een by wie dit gevind word, is my slaaf. Maar júlle sal vry
wees.
11 Daarop
het hulle gou elkeen sy sak op die grond neergesit en elkeen sy sak
oopgemaak.
12 En
hy het gesoek; hy het begin by die oudste en opgehou by die jongste;
en die beker is in Benjamin se sak gevind.
13 Toe
skeur hulle hul klere, en elkeen laai sy esel, en hulle gaan na die
stad terug.
14 En
Juda het saam met sy broers in die huis van Josef gekom, terwyl hy
nog daar was, en hulle het voor hom neergeval op die grond.
15 Daarop
sê Josef vir hulle: Wat is dit nou wat julle gedoen het? Weet
julle nie dat ‘n man soos ek dit ongetwyfeld moet waarneem
nie?
16 En
Juda antwoord: Wat kan ons aan my heer sê? Wat kan ons spreek?
En waarmee kan ons ons regverdig? ELOHIEM het die ongeregtigheid van
u dienaars uitgevind. Kyk, ons is my heer se slawe, ons sowel as hy
by wie die beker gevind is.
17 Maar
hy sê: Dit is ver van my om dit te doen; die man by wie die
beker gevind is, dié sal my slaaf wees. Maar trek júlle
in vrede op na julle vader.