Shabbat Shalom!
Welkom by Lech Lecha -Gaan Voort, hierdie week se Parasha.



BEREISHEET (In die Begin)


Genesis 12:1–17:27;


*~Genesis Hoofstuk 12 ~*


1 En YAHUVEH het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.


2 En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.


3 En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.


4 Toe het Abram weggetrek soos YAHUVEH hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek. En Abram was vyf en sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran.


5 En Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het, en hulle het uitgetrek om na die land Kanaän te gaan en in die land Kanaän gekom.


6 En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom More. Die Kanaäniete was toe in die land.


7 Daarop verskyn YAHUVEH aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ‘n altaar vir YAHUVEH wat aan hom verskyn het.


8 En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste— en Ai aan die oostekant, en daar vir YAHUVEH ‘n altaar gebou en die Naam van YAHUVEH aangeroep.


9 Daarna het Abram al verder na die Suidland weggetrek.


10 En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land.


11 En toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai gespreek: Kyk, ek weet dat jy ‘n vrou is mooi van aansien.


12 As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê: Dit is sy vrou en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe.


13 Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly.


14 Toe Abram dan in Egipte gekom het, sien die Egiptenaars dat die vrou baie mooi was.


15 Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou is na die paleis van Farao geneem.


16 En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het.


17 Maar YAHUVEH het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram.


18 Daarop laat Farao Abram roep en hy sê: Wat het jy my nou aangedoen? Waarom het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie?


19 Waarom het jy gesê: Sy is my suster—sodat ek haar vir my as vrou geneem het? Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg.


20 En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy vrou en sy hele besitting.


*~Genesis Hoofstuk 13 ~*


1 So het Abram dan uit Egipte na die Suidland opgetrek, hy met sy vrou en sy hele besitting, en Lot saam met hom.


2 En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud.


3 En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai,


4 na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het. En Abram het daar die Naam van YAHUVEH aangeroep.


5 En Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook kleinvee en beeste en tente gehad.


6 En die land kon hulle nie dra om saam te woon nie, want hulle besittings was groot, sodat hulle nie saam kon woon nie.


7 En daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Abram en die veewagters van Lot. Ook het die Kanaäniete en Feresiete destyds in die land gewoon.


8 Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers.


9 Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan.


10 Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat YAHUVEH Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van YAHUVEH, soos Egipteland.


11 En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek. So het hulle dan die een van die ander geskei.


12 Abram het bly woon in die land Kanaän, en Lot het gaan woon in die stede van die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan.


13 En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor YAHUVEH.


14 En YAHUVEH sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het: Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste;


15 want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid.


16 En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word.

17 Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee.


18 Toe het Abram al verder tente opgeslaan en gaan woon by die terpentynbome van Mamre wat by Hebron is; en hy het daar vir YAHUVEH ‘n altaar gebou.


*~Genesis Hoofstuk 14 ~*


1 En in die dae van Amrafel, die koning van Sínear, Aríog, die koning van Ellásar, Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die nasies,


2 het hulle oorlog gevoer teen Bera, die koning van Sodom, en teen Bisra, die koning van Gomorra, Síneab, die koning van Adma, en Seméber, die koning van Sebóim, en teen die koning van Bela, dit is Soar.


3 Hulle het almal hulle leërs verenig in die laagte Siddim, dit is die Soutsee.


4 Twaalf jaar lank het hulle Kedor-Laómer toe al gedien, maar in die dertiende jaar het hulle opstandig geword.


5 Toe kom Kedor-Laómer in die veertiende jaar, en die konings wat saam met hom was, en hulle verslaan die Refaïete in Asterot-Karnaim en die Susiete in Ham en die Emiete in die vlakte van Kirjatáim


6 en die Horiete op hulle gebergte Seïr, tot by El-Paran wat aan die woestyn lê.


7 Daarop het hulle omgedraai en by En-Mispat, dit is Kades, gekom en die hele land van die Amalekiete verower en ook die Amoriete wat in Háseson-Tamar woon.


8 Toe trek die koning van Sodom uit en die koning van Gomorra en die koning van Adma en die koning van Sebóim en die koning van Bela, dit is Soar, en stel hulle in die laagte Siddim in slagorde teen hulle op,


9 teen Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die nasies, en Amrafel, die koning van Sínear, en Aríog, die koning van Ellásar: vier konings teen vyf.


10 Maar die laagte Siddim was vol gate in die lymgrond; en toe die konings van Sodom en Gomorra wegvlug, het hulle daarin geval, en die wat oorgebly het, het na die gebergte gevlug.


11 En hulle het al die goed van Sodom en Gomorra en al hulle voedsel geneem en weggetrek.


12 Hulle het ook Lot, Abram se broerskind, en al sy goed geneem en weggetrek—want hy was in Sodom woonagtig.


13 Toe kom daar een wat vrygeraak het, en vertel dit aan Abram, die Hebreër, wat woonagtig was by die terpentynbome van Mamre, die Amoriet, broer van Eskol en broer van Aner; en hulle was bondgenote van Abram.


14 Toe Abram hoor dat sy broer as gevangene weggevoer is, het hy sy geoefende manne wat in sy huis gebore is, laat uittrek, drie honderd en agtien, en hulle tot by Dan agtervolg—


15 hy het hulle in die nag van verskillende kante aangeval, hy en sy dienaars, en hulle verslaan en hulle agtervolg tot by Hoba wat noord van Damaskus lê.

16 En hy het al die goed teruggebring, en ook sy broer Lot en sy goed teruggebring; en ook die vroue en die manskappe.


17 Ná sy terugkoms van die oorwinning op Kedor-Laómer en die konings wat saam met hom was, het die koning van Sodom uitgetrek hom tegemoet na die laagte Sawe, dit is die Koningslaagte.


18 En Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van El, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring


19 en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur El, die Allerhoogste, die Skepper van Hemel en aarde.


20 En geseënd is El, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.


21 En die koning van Sodom sê vir Abram: Gee my die mense, maar neem die goed vir uself.


22 Toe antwoord Abram die koning van Sodom: Ek hef my hand op tot YAHUVEH, El, die Allerhoogste, die Skepper van Hemel en aarde,


23 dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie: Ek het Abram ryk gemaak.


24 Niks vir my nie! Net wat die dienaars geëet het en die deel van die manne wat saam met my getrek het, Aner, Eskol en Mamre, laat dié hulle deel neem.


*~Genesis Hoofstuk 15 ~*


1 Ná hierdie dinge het die woord van YAHUVEH tot Abram gekom in ‘n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot.


2 Toe vra Abram: Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is?


3 Verder het Abram gesê: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees.


4 Toe kom die woord van YAHUVEH tot hom en sê: Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.


5 Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die Hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees.


6 En hy het in YAHUVEH geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.


7 Verder het Hy vir hom gesê: Ek is YAHUVEH wat jou uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee.


8 En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?


9 En Hy antwoord hom: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif.


10 En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie.


11 Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag.


12 En toe die son wou ondergaan, val daar ‘n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.


13 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank.


14 Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.


15 Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word.


16 En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.


17 En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur.


18 Op dié dag het YAHUVEH met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:


19 die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete


20 en Hetiete en Feresiete en Refaïete


21 en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.


*~Genesis Hoofstuk 16 ~*


1 Maar Sarai, die vrou van Abram, het vir hom geen kinders gebaar nie; en sy het ‘n Egiptiese slavin gehad met die naam van Hagar.


2 En Sarai het vir Abram gesê: Jy weet, YAHUVEH het my nie toegelaat om moeder te word nie. Gaan tog in by my slavin; miskien sal ek uit haar gebou word. En Abram het na Sarai geluister.


3 Toe neem Sarai, die vrou van Abram, Hagar, die Egiptiese, haar slavin—nadat Abram tien jaar in die land Kanaän gewoon het—en gee haar aan haar man Abram om sy vrou te wees.


4 En hy het by Hagar ingegaan, en sy het swanger geword. Maar toe sy sien dat sy swanger was, het haar meesteres veragtelik in haar oë geword.


5 En Sarai sê vir Abram: Die onreg my aangedoen, is op jou! Ek self het my slavin in jou skoot gegee, en nou dat sy sien dat sy swanger is, het ek veragtelik in haar oë geword. Laat YAHUVEH oordeel tussen my en jou.


6 En Abram antwoord Sarai: Daar is jou slavin in jou hand—doen met haar soos dit goed is in jou oë. Toe het Sarai haar sleg behandel, en sy het van haar af weggevlug.


7 En die Engel van YAHUVEH het haar by ‘n fontein in die woestyn gevind, by die fontein op pad na Sur,


8 en gevra: Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan, en waar gaan jy heen? En sy antwoord: Ek vlug van my meesteres Sarai af weg.


9 Toe sê die Engel van YAHUVEH vir haar: Gaan terug na jou meesteres en verneder jou onder haar hande.


10 Verder sê die Engel van YAHUVEH vir haar: Ek sal jou nageslag grootliks vermeerder, sodat dit vanweë die menigte nie getel kan word nie.


11 Ook sê die Engel van YAHUVEH vir haar: Kyk, jy is swanger en sal ‘n seun baar, en jy moet hom Ismael noem, want YAHUVEH het jou in jou ellende verhoor.


12 En hy sal ‘n wilde-esel van ‘n mens wees: sy hand teen almal, en almal se hand teen hom! En hy sal teenoor al sy broers woon.


13 Toe noem sy die Naam van YAHUVEH wat met haar gespreek het: U is ‘n God wat sien. Want sy het gesê: Het ek hier ook gesien na Hom wat my sien?


14 Daarom noem hulle die put: Put van Lagai-Roï. Dit lê daar tussen Kades en Bered.


15 En Hagar het vir Abram ‘n seun gebaar; en Abram het sy seun wat Hagar gebaar het, Ismael genoem.


16 En Abram was ses en tagtig jaar oud toe Hagar Ismael vir Abram gebaar het.


*~Genesis Hoofstuk 17 ~*


1 Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het YAHUVEH aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is El Shaddai, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.


2 En Ek wil my verbond sluit tussen My en jou, en jou buitengewoon vermeerder.


3 Toe val Abram op sy aangesig, en Elohim het met hom gespreek en gesê:


4 Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van ‘n menigte van nasies word.


5 Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou ‘n vader van ‘n menigte van nasies.


6 En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom.


7 En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n Elohim te wees en vir jou nageslag ná jou.


8 En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n Elohim wees.


9 Verder het Elohim aan Abraham gesê: Maar jy moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag.


10 Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word—


11 julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en julle.


12 ‘n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie—


13 die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as ‘n ewige verbond.


14 En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie—dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek.


15 Verder het Elohim aan Abraham gesê: Sarai, jou vrou, moet jy nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sara wees.


16 En Ek sal haar seën en jou uit haar ook ‘n seun gee; ja, Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom.


17 Toe val Abraham op sy aangesig, en hy lag en sê in sy hart: Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, ‘n kind gebore word? Of kan Sara, wat negentig jaar oud is, baar?


18 En Abraham sê aan Elohim: Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig!


19 Toe antwoord Elohim: Voorwaar, jou vrou Sara sal vir jou ‘n seun baar, en jy moet hom Isak noem; en Ek sal my verbond met hom oprig as ‘n ewige verbond vir sy nageslag ná hom.


20 Ook wat Ismael aangaan, het Ek jou verhoor. Kyk, Ek seën hom en maak hom vrugbaar en vermeerder hom buitengewoon. Twaalf vorste sal hy verwek, en Ek sal hom ‘n groot nasie maak.


21 Maar my verbond sal Ek oprig met Isak wat Sara vir jou anderjaar op hierdie tyd sal baar.


22 En nadat Hy klaar met hom gespreek het, het Elohim van Abraham af opgevaar.


23 Daarop neem Abraham sy seun Ismael en almal wat in sy huis gebore is, en almal wat met sy geld gekoop is, almal wat manlik was onder die mense in die huis van Abraham, en hy het die vlees van hulle voorhuid nog op daardie selfde dag besny, soos Elohim met hom gespreek het.


24 En Abraham was nege en negentig jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is.


25 En sy seun Ismael was dertien jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is.


26 Op daardie selfde dag is Abraham en sy seun Ismael besny


27 en al die manne van sy huis—die wat in sy huis gebore en die wat van vreemdelinge met geld gekoop is, is saam met hom besny.