Shabbat Shalom!
Welkom by Parasha Bereisheet /In die Begin, hierdie week se Torah gedeelte.



Genesis 1:1–6:8; 

1 In die begin het ELOHIM die hemel en die aarde geskape. 2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van ELOHIM het gesweef op die waters. 3 En ELOHIM het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. 4 Toe sien ELOHIM dat die lig goed was. En ELOHIM het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis. 5 en ELOHIM het die lig Dag genoem, en die duisternis het HY Nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.


6 En ELOHIM het gesê: Laat daar ‘n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. 7 ELOHIM het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so. 8 En ELOHIM het die uitspansel Hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag.


9 En ELOHIM het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so. 10 En ELOHIM het die droë grond Aarde genoem, en die versameling van die waters het HY See genoem. Toe sien ELOHIM dat dit goed was.


11 En ELOHIM het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so. 12 Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe sien ELOHIM dat dit goed was. 13 En dit was aand en dit was môre, die derde dag.


(A: ii) 14 En ELOHIM het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. 15 Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so. 16 ELOHIM het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre. 17 En ELOHIM het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde 18 en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis. Toe sien ELOHIM dat dit goed was. 19 En dit was aand en dit was more, die vierde dag.


20 En ELOHIM het gesê: Laat die waters wemel met ‘n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel. 21 En ELOHIM het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte. Toe sien ELOHIM dat dit goed was. 22 En ELOHIM het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder. 23 En dit was aand en dit was more, die vyfde dag.


(A: iii) 24 En ELOHIM het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so. 25 En ELOHIM het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte, Toe sien ELOHIM dat dit goed was.


26 En ELOHIM het gesê: Laat ONS mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.


27
En ELOHIM het die mens geskape na Sy beeld; na die beeld van ELOHIM het HY hom geskape; man en vrou het HY hulle geskape.


HY

28 En ELOHIM het hulle geseën, en ELOHIM het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. 29 Verder het ELOHIM gesê: EK gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees. 30 Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ‘n lewende siel is, gee EK al die groen plante as voedsel. En dit was so. 31 Toe sien ELOHIM alles wat HY gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was more, die sesde dag.


2 SO is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. 2 En ELOHIM het op die sewende dag SY werk voltooi wat HY gemaak het, en op die sewende dag gerus van al SY werk wat ELOHIM geskape het deur dit te maak. 3 En ELOHIM het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat HY daarop gerus het van al SY werk wat ELOHIM geskape het deur dit te maak.


(A: iv, S: ii) 4 DIT is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe YAHUVEH ELOHIM die aarde en die hemel gemaak het, 5 was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want YAHUVEH ELOHIM het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie. 6 Maar ‘n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig.


7 En YAHUVEH ELOHIM het die mens geformeer [a] uit die stof van die aarde [b] en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword. 8 Ook het YAHUVEH ELOHIM ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat HY geformeer het, ‘n plek gegee. 9 En YAHUVEH ELOHIM het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.

10 En daar het ‘n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword. 11 Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Hawila loop waar die goud is. 12 En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen. 13 En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kus loop. 14 En die naam van die derde rivier is die Hiddékel. Dit is hy wat oos van Assur loop. En die vierde rivier is die Frat.

15 Toe het YAHUVEH ELOHIM die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. 16 En YAHUVEH ELOHIM het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, 17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.


18 Ook het YAHUVEH ELOHIM gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. EK sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas. 19 En YAHUVEH ELOHIM het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees. (S: iii) 20 So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie.


21 Toe het YAHUVEH ELOHIM ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het HY een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. 22 En YAHUVEH ELOHIM bou die rib wat HY van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens. 23 Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal Mannin [c] genoem word, want sy is uit die Man [d] geneem. 24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.


25 En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.

3 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat YAHUVEH ELOHIM gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat ELOHIM gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het ELOHIM gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar ELOHIM weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos ELOHIM sal wees deur goed en kwaad te ken. 6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. 7 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hul skorte gemaak.


8 En hulle het die stem van YAHUVEH ELOHIM gehoor terwyl HY wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van YAHUVEH ELOHIM tussen die bome van die tuin. 9 Toe roep YAHUVEH ELOHIM na die mens en sê vir hom: Waar is jy? 10 En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg. 11 En HY sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan EK jou beveel het om nie te eet nie?


12 En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees -- sy het my van die boom gegee, en ek het geëet. 13 Daarop sê YAHUVEH ELOHIM aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.


14 Toe sê YAHUVEH ELOHIM aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. 15 En EK sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.

16 Aan die vrou het HY gesê: EK sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers.


17 En aan die mens het HY gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan EK jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. 18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. 19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde -- want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.


20 En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe.


21 En YAHUVEH ELOHIM het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.


(A: v, S: iv) 22 Toe sê YAHUVEH ELOHIM: Nou het die mens geword soos een van ONS deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! — 23 Toe stuur YAHUVEH ELOHIM hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is. 24 So het HY dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.


4 En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain [verkryging] gebaar en gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van YAHUVEH. 2 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ‘n skaapherder geword, en Kain ‘n landbouer. 3 En na verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan YAHUVEH ‘n offer gebring. 4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En YAHUVEH het Abel en sy offer genadig aangesien, 5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang. 6 En YAHUVEH sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? 7 Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie – die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers. 8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.


9 Toe sê YAHUVEH vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter? 10 En HY sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na MY van die aarde af. 11 Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. 12 As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; ‘n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde. 13 Daarop sê Kain vir YAHUVEH: My skuld is te groot om dit te dra. 14 Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig; ‘n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan. 15 Maar YAHUVEH sê vir hom: Daarom, as enigeen Kain doodslaan, sal dit sewevoudig gewreek word. En YAHUVEH het ‘n teken gegee aan Kain, sodat enigeen wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie. 16 Toe gaan Kain weg van die aangesig van YAHUVEH, en hy het gewoon in die land Nod [omswerwinge], aan die oostekant van Eden.


17 En Kain het sy vrou beken, en sy het swanger geword en Henog gebaar. Daarna bou hy ‘n stad en noem die stad na die naam van sy seun Henog. 18 En vir Henog is Irad gebore; en Irad was die vader van Mehujael; en Mehujael was die vader van Metusael; en Metusael die vader van Lameg.


(S: v) 19 En Lameg het vir hom twee vroue geneem. Die naam van die eerste was Ada, en die naam van die tweede Silla. 20 En Ada het Jabal gebaar. Hy was die vader van die tentbewoners en die veeboere. 21 Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die vader van almal wat op siters en fluite speel. 22 En Silla het ook gebaar, naamlik Tubal-Kain, ‘n smid wat allerhande koper- en ysterinstrumente gemaak het. En die suster van Tubal-Kain was Naéma. 23 En Lameg het aan sy vroue gesê:

Ada en Silla, hoor na my stem!
Vroue van Lameg, luister na my woord!
Voorwaar, ek slaan ‘n man dood wat my wond
en ‘n seun wat my kwes.


24
Want Kain sal sewe maal gewreek word,
maar Lameg sewen-en-sewentig maal.


25 En Adam het sy vrou weer beken, en sy het ‘n seun gebaar en hom Set [toegestaan] genoem. Want, het sy gesê, ELOHIM het my ‘n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het. 26 En ook vir Set is ‘n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van YAHUVEH [YAHUVEH] begin aanroep.

5 (vi) Dit is die stamboom van Adam. Die dag toe ELOHIM Adam geskape het, het HY hom gemaak na die gelykenis van ELOHIM [ELOHIM]. 2 Man en vrou het HY hulle geskape en hulle geseën en hulle mens [Adam] [mensdom, mens] genoem, die dag toe hulle geskape is. 3 Toe Adam honderd-en-dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem. 4 En die dae van Adam, na die geboorte van Set, was agthonderd jaar. En hy het seuns en dogters gehad. 5 So was dan al die dae van Adam wat hy geleef het, negehonderd-en-dertig jaar, en hy het gesterwe.


6 Toe Set honderd-en-vyf jaar oud was, het hy die vader van Enos geword. 7 En Set het na die geboorte van Enos nog agthonderd-en-sewe jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. 8 So was dan al die dae van Set negehonderd-en-twaalf jaar, en hy het gesterwe.


9 Toe Enos negentig jaar oud was, het hy die vader van Kenan geword. 10 En Enos het na die geboorte van Kenan nog agthonderd-en-vyftien jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. 11 So was dan al die dae van Enos negehonderd-en-vyf jaar, en hy het gesterwe.


12 Toe Kenan sewentig jaar oud was, het hy die vader van Mahalalel geword. 13 En Kenan het na die geboorte van Mahalalel nog agthonderd-en-veertig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. 14 So was dan al die dae van Kenan negehonderd-en-tien jaar, en hy het gesterwe.


15 Toe Mahalalel vyf-en-sestig jaar oud was, het hy die vader van Jered geword. 16 En Mahalalel het na die geboorte van Jered nog agthonderd-en-dertig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. 17 So was dan al die dae van Mahalalel agthonderd-vyf-en-negentig jaar, en hy het gesterwe.


18 Toe Jered honderd-twee-en-sestig jaar oud was, het hy die vader van Henog geword. 19 En Jered het na die geboorte van Henog nog agthonderd jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. 20 So was dan al die dae van Jered negehonderd-twee-en-sestig jaar, en hy het gesterwe.


21 Toe Henog vyf-en-sestig jaar oud was, het hy die vader van Metusalag geword. 22 En Henog het na die geboorte van Metusalag nog driehonderd jaar met ELOHIM gewandel. En hy het seuns en dogters gehad. 23 So was dan al die dae van Henog driehonderd-vyf-en-sestig jaar. 24 En Henog het met ELOHIM gewandel; en hy was daar nie meer nie, want ELOHIM het hom weggeneem.


(vii) 25 Toe Metusalag honderd-sewen-en-tagtig jaar oud was, het hy die vader van Lameg geword. 26 En Metusalag het na die geboorte van Lameg nog sewehonderd-twee-en-tagtig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. 27 So was dan al die dae van Metusalag negehonderd-nege-en-sestig jaar, en hy het gesterwe.

28 Toe Lameg honderd-twee-en-tagtig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek 29 en hom Noag [rustige] genoem, want hy het gesê: Dit is hy wat ons sal troos oor ons werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat YAHUVEH vervloek het. 30 En Lameg het na die geboorte van Noag nog vyfhonderd-vyf-en-negentig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. 31 So was dan al die dae van Lameg sewehonderd-sewen-en-sewentig jaar, en hy het gesterwe.

32 En Noag was vyfhonderd jaar oud, en Noag het die vader geword van Sem, Gam en Jafet.


6 Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, 2 sien die seuns van ELOHIM dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. 3 Toe sê YAHUVEH: MY Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar. 4 In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van ELOHIM [“N’filim”] by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.


(Maftir)” 5 Toe YAHUVEH sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, 6 het dit YAHUVEH beroou dat HY die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in SY hart. 7 En YAHUVEH sê: EK sal die mens wat EK geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou MY dat EK hulle gemaak het. 8 Maar Noag het genade gevind in die oë van YAHUVEH.